Leesplan inligting

Oorweldig Deur My Seëninge (Deel 4)Voorbeeld

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 4)

DAG 3 VAN 5

'n Rukkie gelede het ek my vier jongste kleinseuns, tussen die ouderdomme van vyf en 10 jaar, na 'n plaaslike inry-restourant geneem. Op hierdie pragtige sonskyndag het ons buite gesit terwyl hulle hul ysdrankies geniet het. Die gesels en spottery het vinnig verander na grappies oor winde los, want … seuns.


In 'n poging om van die suiker-verwante energie ontslae te raak, het ons op 'n lang sypaadjie begin speletjies speel, wat natuurlik oorgegaan het in kompetisies. Die area was 'n bietjie met rommel bestrooi en een van my kleinseuns trap toe per ongeluk op 'n vrugtesapboksie wat daar gelê het. Presies op daardie oomblik het een van sy nefies verby gehardloop en die laaste bietjie van die ou vrugtesap het oor sy voet gespat. Dit het gelei tot 'n oproerige laggery.


Druk sal altyd daartoe lei om wat binne is uit te druk, soos met die vrugtesapepisode.


Vir ons ontstaan die druk dikwels van te veel verpligtinge. Soms is dit net die gewone, oorweldigende daaglikse take en gesinsverhoudinge wat vir ons te veel word. Die druk is op ons om alles gedoen te kry. Om betyds met 'n goeie gesindheid by die werk op te daag. Om drie maal per dag 'n ete voor te sit! Die voortdurende herhaling van klere en vloere te was en badkamers skoon te hou. Om uitbarstings van kleuters en houdings van tieners te hanteer. Om diep te delf om ontvanklik te wees vir intimiteit met jou man.


Wanneer ons onder druk geplaas word, word dit wat binne-in ons is, uitgepers en dit besmet almal om ons. Die inhoud van ons harte word blootgelê en dis nie altyd mooi nie.


In plaas daarvan om skuldig te voel, kom ons praat eerder oor al daardie rommel. Dit is daar sodat almal dit kan sien, wat gaan jy dus nou daaromtrent doen? Gaan jy dit onderdruk en wag vir die volgende hoëdruk-situasie om jou weer van voor af lam te lê? Of gaan jy die sonde erken en dit op die naam noem: trots, vrees of beheer? Sal jy die lig van God se teenwoordigheid toelaat om in jou donker hart te skyn?


Dit is 'n geleentheid. Gaan jy dit laat verbygaan? Bely die sonde wat so uit jou uitbars en beweeg vorentoe. Die volgende keer wanneer jy onder druk is, sal jy op jou hoede wees. Geen stink, ou vrugtesap gaan jou hart besoedel nie!


Vader, my lewe is vol druk. Partykeer kan net nog een dingetjie wat by my alreeds-te-vol dag gevoeg word, my na 'n volskaalse uitbarsting dwing en die gevolge is nie mooi nie. Ek bely hierdie sonde van my hart en vra dat U aan my die moed en krag sal gee om U toe te laat om my hart in u liefde te lei. Ek weet van my druk is daar deur my eie toedoen, dus vra ek dat U aan my die areas sal uitwys waar ek my las kan ligter maak. Gee aan my die moed om die belangrike bo die dringende te kies, die ewige bo die tydelike. Help my om U in te asem en te besef dat dit net nog 'n kans is om U te kies.


Oorweeg om die Skrifgedeeltes uit Die Boodskap te lees.


 


 


Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 4)

Bemoediging vir ma's van 'n ma wat sewe kinders grootgemaak het — en oorleef het om die storie te vertel. Dit is deel 4 van 12 leesplanne in hierdie reeks deur Robin Meadows!

Ons wil graag vir Robin Meadows bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: instagram.com/manymeadows

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid