Leesplan inligting

Vind Betekenis te Midde van Verandering Voorbeeld

Finding Meaning in the Middle of Change

DAG 2 VAN 7

Dit Begin Vandag



Dink aan die betekenisvolste dag van jou lewe. Miskien is dit die dag toe jy gegradueer het, die dag toe jy jou droom werk aanvaar het, of die dag toe jy met die liefde van jou lewe getrou het. Dalk is die betekenisvolste dag van jou lewe nie met rose besaai nie. Miskien is dit die dag toe jy 'n ouer verloor het of 'n ontstellende mediese verslag ontvang het. Watter dag ook al by jou opkom, dit het waarskynlik jou lewe verander.



Kom ons kyk na een voorbeeld van lewensverandering in die Bybel. Op 'n stadium tydens sy bediening, het Jesus 'n vrou in die middag by 'n put ontmoet, wat hoogs ongewoon was omdat vroue gewoonlik water in die koeler ure van die dag geskep het.



Toe hulle paaie by die put kruis, vra Jesus haar om water vir Hom te skep. Die vrou is onmiddellik uit die veld geslaan, wat daarop dui dat sy nie daaraan gewoond was om aangespreek te word nie — veral nie deur 'n Jood nie. Hulle begin 'n gesprek oor Jesus se lewende water, en Hy sê vir haar dat 'n persoon wat dit drink, nooit weer dors sal wees nie.



Die vrou wil van hierdie water hê — miskien sodat sy dan nie verder hoef te leef met die skande wat sy dra en dus water in die warm middagson te kom skep nie. Jesus sê dan vir haar om haar man te gaan roep, wetende dat sy nie een het nie. Trouens, die man saam met wie sy woon, is nie haar man nie. Dan verander Jesus haar lewe in 'n oogwenk:



"Die vrou het vir Hom gesê: 'Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.' Toe sê Jesus vir haar: 'Dit is Ek, Ek wat met jou praat'” (Johannes 4:25-26).



Onmiddellik het die vrou haar waterkruik net daar gelaat en die dorp van haar ontmoeting met Jesus gaan vertel. Gevolglik het baie mense in haar dorp tot geloof in Jesus gekom en Hom aanvaar. 'n Vrou wat 'n uitgeworpene was, het skielik 'n deurslaggewende deel van God se plan geword. 



God wil hê dat ons dieselfde soort vernuwende lewensverandering moet ervaar.



Die soort lewensverandering wat Jesus bied, stel ons vry van ons verlede. Dit verskaf vreugde, ongeag ons omstandighede. Dit stel ons in staat om te lewe soos mense wat geliefd en uitverkore is.



Hierdie soort lewensverandering verg egter meer as net om jou Bybel te lees en na liedere van aanbidding te luister. Hoekom? Werklik vernuwende lewensverandering is meer as om na die regte inligting te luister. Die vrou by die put het nie net 'n gesprek met Jesus aangehoor nie, sy het vryheid ervaar in haar ontmoeting met Hom.



Sy het reguit vrae gevra. Sy het deelgeneem aan die gesprek. Toe het sy opgetree en die goeie nuus met almal in haar gemeenskap gedeel. 



Om werklike, vernuwende lewensverandering te ervaar, moet jy nader aan God leun en na Hom luister. Jy moet met ander praat. En jy moet optree, net soos Jakobus 1:22 ons herinner: 



"Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself" (Jakobus 1:22).



Gebed: Vader, dankie dat U my lewensverhaal skryf. Ek vertrou U om wonderlike dinge tot u eer in en deur my te doen. U het die mag om my lewe te verander. U laat my toe en nooi my uit om deel te wees van daardie veranderinge. Vader, wys my dus watter volgende tree ek vandag moet neem. Maak my hart oop vir u waarheid. Rig my gedagtes na U toe, en wys my hoe om U te vereer in alles wat ek vandag doen. In die Naam van Jesus. Amen.



Uitdaging: Stel 'n tydhouer vir vyf minute, en vra God om met jou te praat. Skryf dit wat jy dink Hy vir jou sê neer en praat dan daaroor met 'n goeie vriend of mentor.


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Finding Meaning in the Middle of Change

Hoe reageer ons wanneer die lewe nie uitwerk soos ons beplan het nie of wanneer ons 'n ompad neem? Wanneer ons verandering ervaar, is dit maklik om oorweldig te word met gevoelens van verwarring, woede en teleurstelling....

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir verdere inligting, besoek gerus: https://www.life.church/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid