Leesplan inligting

Jy Sê, God SêVoorbeeld

Jy Sê, God Sê

DAG 5 VAN 5

JY SÊ: Kan ek ooit nog ’n kans kry? GOD SÊ: Ja, my Seun het jou vrygekoop 


Jesus se hele lewe was ’n pad na die dood. En eintlik is dit dieselfde storie met ons. Dis een van daardie boodskappe wat ons nie wil hoor nie, maar dis die waarheid: Elkeen gaan sterf. 


Maar Jesus se pad was ’n bietjie anders. Hy het van die begin af geweet daar wag ’n kruisiging, ’n wrede dood, op hom. Die sonde van die mensdom gaan op Hom neerkom. Sy geboorte, doop, bediening, alles wat met Hom in sy lewe gebeur het, was maar eintlik heeltyd ’n aanlooppaadjie na die kruis. 


En die rede waarom Hy hierdie paadjie kon stap tot by die kruis, was eerstens omdat Hy sy Vader liefgehad en gesê het: Ek sal enigiets vir my Vader doen. En tweedens was dit ook omdat Hy jou liefgehad en gesê het: Ek sal my lewe vir die mensdom gee. 


Ken jy die ware verhaal van die Australiër, Ian Usher, wat sy lewe oor eBay op die internet verkoop het? Op ’n dag het hy die liefde van sy lewe verloor. Hulle was gelukkig getroud, volgens hom, en hy het alles gehad wat hy begeer het. Maar hy het begin droogmaak in sy huwelik en sy vrou verwaarloos. Sy het uitgetrek en die huis het hom te veel herinner aan haar. En toe gaan Ian Usher en adverteer op eBay “A life for sale”.       


Jy kan daarna gaan kyk as jy wil, Alife4sale.com. Sy hele lewe was te koop – huis, kar, werk, polisse, geskiedenis, skoolloopbaan, alles. Sy grootste begeerte was om sy verlede en mislukkings te verkoop. Hy wou net ontslae raak van die pyn van sy mislukte liefde, dit agter hom sit en by die huis uitloop met die geld wat hy daarvoor kon kry. 


Daarmee wou hy ’n nuwe lewe, naam, plek, nuwe alles kry en van voor af begin. Die hoogste bod op die e-veiling was 390 300 Australiese dollar (R 3,817,569.78). Hy kon wegstap met ’n nuwe begin, ’n tweede kans. 


Op sy webtuiste is ’n vraelys: Wat sal jy doen? Hoe voel jy oor die lewe? Sal jy ook jou lewe wil verkoop? Wel, in ’n stadium het 77 persent van die deelnemers gewens hulle kan dieselfde doen. 


Ek wens ek kan my lewe verkoop, alles net uitwis en ’n nuwe toekoms vir myself bou ... Dit is dalk baie mense se storie. 


In die tuin van Eden het die mens die liefde van sy en haar lewe gehad, God die Vader. En toe kom sonde, en skeur daardie verhouding aan repies. Sonde boelie, maak seer, vat ons eenkant toe, maak ons alleen. Dit verwyder liefde uit jou lewe. 


En nou begeer die meeste mense ’n tweede kans. Hulle wil net weer liefde, God en vrede in hul lewe hê. 


Ken jy die goeie nuus? Daar het wel so ’n kooptransaksie plaasgevind. Op ’n dag het Iemand ons ou lewe kom koop en die prys daarvoor betaal. En ons kry ’n nuwe naam, ’n nuwe identiteit, ’n tweede kans, ’n nuwe liefde in ons lewe. Ian Usher se bevryding kan werklik in jou hart ook gebeur. 


Waar en hoe het dit gebeur? Wel, deur Jesus. Hy het ons duur kom koop, ons sonde, ons verlede. Hy het dit aan die kruis gevat en die prys betaal. 


Nou wat het hierdie kooptransaksie gekos? Baie meer! Nie silwer en goud nie, nie die bloed van skape en bokke en beeste nie, maar die bloed van die enigste Seun van God. 


Ons lewe is geadverteer en Iemand het opgedaag en gesê: Ek koop daardie lewe, die sonde en skuld. Ek koop nou vir jou ’n nuwe naam, ’n nuwe identiteit, ’n nuwe begin. 


Die ou dinge is verby; die sonde is vergewe. Jy kry ’n nuwe toekoms, ’n nuwe droom, ’n nuwe menswees. 


Waaroor voel jy skuldig of nie goed genoeg nie? Jesus het reeds die prys betaal. Jy kan weer liefde in jou lewe kry – God se liefde. Toe sy Seun aan die kruis gesterf het, het Hy die prys betaal sodat jy ’n nuwe naam en identiteit kan kry. 


Nou die groot vraag is, wat gaan jy daarmee doen? Toe Ian Usher besef hy verkoop sy lewe, dink hy, maar wat moet ek nou gaan doen? En toe het hy allerhande projekte aangepak, vol nuwe energie. Hy het ’n inspuiting van lewenslus gekry. 


Is dit nie ook wat met jou moet gebeur wanneer jy besef jy is ’n nuwe mens – vrygekoop, kind van die lewende God nie? Jou skuld is betaal. Jy het ’n nuwe toekoms, nuwe drome. 


Droom jy net om aan te gaan met jou lewe, met sonde en skuldgevoel? Of droom jy, Here, wat wil U nou van my hê? Wat wil U met my lewe doen? Hier is ek. Ek is vry en nuut; ek kan enigiets doen. Waar moet ek getuig? Vir wie kan ek bid? 


’n Energie kom in jou los wanneer jy besef jy het ’n nuwe lewe, ’n tweede kans. Paulus skryf: Die liefde van God dryf my. As liefde weer oor jou spoel, wat gaan jy daarmee doen? 


Hierdie oordenkings is geneem uit JY SÊ, GOD SÊ  deur Andries Enslin, CARPE DIEM MEDIA.  

Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sê, God Sê

In JY SÊ, GOD SÊ gee Andries Enslin jou ’n helder antwoord en oplossing van God vir elke probleem – groot én klein – in jou lewe. In hierdie 5 dae fokus hy op Jesus, ons verlosser. Hy stel jou fokus in sodat jy duidelik...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid