Leesplan inligting

Jy Sê, God SêVoorbeeld

Jy Sê, God Sê

DAG 4 VAN 5

JY SÊ: Wat nou? Ek glo, maar bly val GOD SÊ: Ek vergewe altyd – kyk na Petrus 


Mense bely maklik al die verkeerde dinge wat hulle voor hul bekering gedoen het. Jy kan hul lewe skei in ’n voor- en ná- bekering-fase. Maar wat nou van sonde ná jou bekering? Hoe maklik praat jy daaroor? 


Baie goed word deur die vingers gesien omdat dit in die voor-fase gebeur het. Voor my bekering het ek geld gesteel, gejok, ’n skelm verhouding aangeknoop. En nou is dit my ná-fase en dis amper half moeilik om oor sonde te praat. 


Daar is mos so ’n gedagte van vergifnis is vir my bekeringsdag, die dag dat ek al my sonde vir God gee en Hy my vergewe. 


En dan is daar so ’n grys gebied: Wat van sonde ná my bekering, nadat ek Jesus gekies en begin volg het? Ja, ek weet daar is vergifnis daarvoor, maar ek praat amper nie daaroor nie. 


Wat vang jy met sonde daarna aan? Een van twee goed gebeur. 


Mense maak dit af as niks. Ek het mos nou tot bekering gekom en almal sondig maar. Hy vergewe dit en ons gaan maar net aan. Dis die een manier. 


Die ander kant is, ek bly stil, jok daaroor en begin dit wegsteek. Ek is mos nou ’n Christen. Daarom mag ek nie meer hierdie sonde doen nie. Ek leef ’n lou geloofslewe. 


’n Oorsese predikant het by ’n buite-egtelike verhouding betrokke geraak. In ’n stadium voel hy verskriklik skuldig daaroor. Hy soek vergifnis daarvoor, en dink: Hoe kan God my vergewe vir hierdie affêre, ná alles wat ek weet? 


 Ons voel Hy kan jou maklik vergewe vir ’n affair voor jou bekering, want jy het nie van beter geweet nie. Jy is gedryf deur jou vlees. Maar wat doen jy met ’n affair ná bekering? 


Jy is dan lief vir Hom. Hy was al so goed vir jou en hier val jy al weer. Kan jy net weer na Hom gaan en vra: Vergewe my, weer ... en weer? Beteken jou bekering dan niks? 


Ons kry selfs in sy Woord talle voorbeelde van manne en vroue wat ná bekering nog sonde gedoen het. Hulle het ’n ontmoeting met Hom gehad, moes van beter weet, en tog val hulle. Hoe het hulle dit hanteer? 


Een van die grootste kandidate wat uitstaan, is Dawid. Hy skryf die pragtige psalms, is hierdie briljante koning. En dan, ná ’n lang pad met God, val hy in owerspel met Batseba. 


Hoe hanteer hy vergifnis? Ook dinge eers weggesteek, probeer toegooi met leuens, selfs moord. Totdat Natan die profeet hom kom konfronteer. Hy sit met diepe berou. 


Nog ’n kandidaat was natuurlik Petrus. Hy word geroep as volgeling. Binne ’n paar dae genees Jesus Petrus se skoonma en hulle sien wonderwerke. 


Petrus kom tot bekering. Soos ons sal sê, hy word ’n kerkmens. Hy loop sowaar op water! Hy is ’n uitverkoopte Jesus-volgeling – en hy sondig. Drie keer, ek ken Hom nie, voor ’n diensmeisie by ’n vuur. Dis nie eens waar sy lewe in gevaar is nie. Petrus hardloop met groot berou en hartseer weg toe die hoenderhaan kraai. 


Ek weet nie van jou nie, maar in my lewe het die hoenderhaan al ’n paar keer gekraai. Ek is lief vir God, maar het al gesê, gewys of geleef: Ek ken Hom nie. 


Ek het al soos Petrus gevoel, en die vraag gevra: Hoe hanteer ’n Christen vergifnis ná bekering? 


Jesus en Petrus se herontmoeting ná die opstanding hou vir my die sleutel. Dink net aan al die emosies, die skuldgevoel by Petrus ... Ek het Hom verloën, my rug op Hom gedraai, gesê ek ken Hom nie. Hoe voel Hy oor my? Gaan Hy my uittrap? 


Ook wanneer jy drie keer gesondig het, kom Jesus terug na jou en vra: Het jy My lief? Soek jy vergifnis? 


Vergifnis ná bekering is van die liefdevolste tye in ons lewe. Dis wanneer ons voel ons het Hom te na gekom. Ons voel so laag soos modder, wil nie met Hom praat nie. Ons voel soos Adam en Eva. Ons wil wegkruip in die tuin. En Hy kom kyk jou in die oë en vra: Het jy My lief? 


Vandag staan Hy by jou en kyk jou met dieselfde oë, dieselfde hart aan: Kom ons praat hart tot hart, het jy My nog lief? En jy erken: Ek het U lief. Maar ek het geval, drooggemaak, verkeerde goed gedoen. 


Maak nie saak wat jy gedoen het nie, Ek het jou lief en vergewe jou, is sy versekering. 


Het jy dalk koud geword en weet nie meer waar jy met God staan nie? Hy kom en sê: Ek het jou nog lief. Het jy My nog lief? Ek het vir jou werk. Ek wil jou lewe steeds gebruik. 

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sê, God Sê

In JY SÊ, GOD SÊ gee Andries Enslin jou ’n helder antwoord en oplossing van God vir elke probleem – groot én klein – in jou lewe. In hierdie 5 dae fokus hy op Jesus, ons verlosser. Hy stel jou fokus in sodat jy duidelik...

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid