JEREMIA 40:7-12

JEREMIA 40:7-12 Bybel vir almal (ABA)

Daar was nog offisiere van Juda in die veld. Hulle en hulle manne het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja gekies en aangestel het om oor die land te regeer. Gedalja moes regeer oor die mans, vroue en kinders wat nie na Babel moes gaan nie. Hulle was die arm mense van die land. Die offisiere het na Gedalja toe gekom in die stad Mispa. Die offisiere was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai van die stad Netofa, en Jesanja van die stad Maäka. Dit was die offisiere en hulle manne. Gedalja seun van Agikam seun van Safan het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle. Ek moet hier in Mispa bly, ek sal vir die Galdeërs wat hiernatoe kom, doen wat hulle nodig het. Maar julle kan vir julle wyn en vrugte en olyf-olie bymekaarmaak en dit in julle kruike sit. Dan kan julle gaan woon in die stede wat julle gevat het.” Daar was ook Judeërs in Moab en by die Ammoniete en in Edom en in ander lande. Hulle almal het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja gekies en aangestel het om oor hulle te regeer. Al die Judeërs het toe teruggekom uit die lande waarnatoe hulle gevlug het. Hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa en hulle het baie wyn en vrugte bymekaargemaak.

JEREMIA 40:7-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe al die owerstes van die leërs wat in die veld was, hulle en hulle manskappe, hoor dat die koning van Babel Gedálja, die seun van Ahíkam, oor die land aangestel het en dat hy aan hom manne en vroue en kinders toevertrou het, en van die arm mense van die land, van die wat nie in ballingskap weggevoer is na Babel nie, het hulle na Gedálja gekom in Mispa, naamlik Ismael, die seun van Netánja, en Jóhanan en Jónatan, die seuns van Karéag, en Serája, die seun van Tánhumet, en die seuns van Efai, die Netofatiet, en Jesánja, die seun van die Maägatiet, hulle en hulle manskappe. En Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe gesweer en gesê: Wees nie bevrees om die Chaldeërs te dien nie; bly in die land en dien die koning van Babel; dan sal dit goed met julle gaan. En ek self, kyk, ek woon in Mispa om voor die Chaldeërs te staan wat na ons sal kom. Samel julle dan wyn en somervrugte en olie in en gooi dit in julle bakke, en woon in julle stede wat julle in besit kan neem. En ook al die Jode wat in Moab en onder die kinders van Ammon en in Edom en wat in al die lande was, het gehoor dat die koning van Babel vir Juda 'n oorblyfsel nagelaat het; en dat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het; daarom het al die Jode teruggekom uit al die plekke waarheen hulle verdryf was, en in die land Juda na Gedálja gekom, in Mispa; en hulle het groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel.

JEREMIA 40:7-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die bevelhebbers van die Israelitiese soldate wat nog in die veld was en hulle manskappe het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam in bevel van die land geplaas het en dat hy die mans, vrouens en kinders wat van die armstes in die land was en wat nie na Babel toe verban is nie, aan Gedalja se sorg toevertrou het. Die bevelhebbers en hulle manskappe is toe ook na Gedalja toe in Mispa. Onder hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa, en Jaäsanja seun van iemand uit Maäka, hulle met hulle manskappe. Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, het die manne met 'n eed die versekering gegee dat hulle nie bang hoef te wees om hulle aan die Galdeërs te onderwerp nie: “Bly in die land en onderwerp julle aan die koning van Babel, dit sal goed gaan met julle. Ek gaan hier in Mispa bly om tot beskikking te wees van die Galdeërs wat hier na ons toe kom. Julle kan wyn, vrugte en olie bymekaarmaak en bêre en in die dorpe gaan woon wat julle beset.” Al die Judeërs wat in Moab en tussen die Ammoniete en in Edom en in ander lande was, het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, in bevel geplaas het oor hulle. Al dié Judeërs het toe uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, teruggekom na Juda toe en hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa. Hulle het 'n baie groot wyn- en vrugteoes ingesamel.

JEREMIA 40:7-12 Die Boodskap (DB)

Daar was nog offisiere en manskappe van Juda in die plattelandse gebiede afgesny. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja die seun van Agikam as bestuurder van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders en ook die arm mense wat nie uit Juda na Babel toe weggevat is nie. Hierdie offisiere en manskappe het na Gedalja toe in Mispa gegaan. Hulle was Ismael die seun van Netanja, Joganan en Jonatan die seuns van Kareag, Seraja die seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka en hulle manskappe. Gedalja het sy woord vir hierdie offisiere en hulle manskappe gegee. Hy het hulle belowe dat niks met hulle sal gebeur as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee nie. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hy het gesê: “Bly hier in die land en werk saam met die koning van Babel. Dan sal dit met julle goed gaan. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs onderhandel wat ons kom besoek. Maar oes julle druiwe, vrugte en olywe en bêre dit in houers. Bly in die stede waarvan julle nou in beheer is.” Die Jode wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder hoor dat hy Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het, het hulle uit al die plekke waarnatoe hulle gevlug het, teruggekom na die land Juda toe. Hulle het eers na Gedalja in Mispa toe gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en vrugte begin insamel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid