JEREMIA 40:7-12

JEREMIA 40:7-12 NLV

Daar was nog offisiere en soldate van Juda wat in die plattelandse gebiede agtergebly het. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam as goewerneur van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders, die arm mense wat nie uit Juda na Babel weggevoer is nie. Hulle het na Gedalja toe gekom waar hy in Mispa was. Hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka. Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.” Die Judeërs wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder ook gehoor het dat hy Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het, het hulle uit al die plekke waarheen hulle gevlug het, na die land Juda teruggekeer. Hulle het eers na Gedalja in Mispa gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en somervrugte begin insamel.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JEREMIA 40:7-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid