Jeremia 40

40
Jeremia gaan woon in Mispa by Gedalja
1Jeremia het gehoor die Here praat met hom. Dit was nadat Nebusaradan, die hoof-offisier van die koning van Babel, vir Jeremia by Rama vry laat gaan het. Jeremia was met kettings vasgebind tussen die gevangenes van Jerusalem en Juda wat na Babel moes gaan. 2Die hoof-offisier het vir Jeremia apart geneem en hy het met Jeremia gepraat waar hulle alleen was. Hy het vir Jeremia gesê: “Dit is jou God die Here wat die mense van hierdie plek gestraf het. 3Jou God het laat gebeur wat Hy gesê het, Hy het dit gedoen omdat julle sonde gedoen het teen Hom en nie gehoorsaam was aan Hom nie. Daarom het hierdie ding met julle gebeur. 4Maar kyk, ek haal nou die kettings van jou arms af. As jy wil, kom saam na Babel en ek sal vir jou sorg. As jy nie wil saamkom na Babel nie, bly hier. Kyk, die hele land is hier vir jou. Jy mag gaan waarnatoe jy wil. 5En as daar nie mense is waar jy wil woon nie, dan moet jy terugkom na Gedalja seun van Agikam seun van Safan toe. Die koning van Babel het vir Gedalja gekies en aangestel om te regeer oor die stede van Juda. Jy moet by hom bly saam met die mense, of jy kan gaan na enige plek waar jy wil.”
Die hoof-offisier het vir Jeremia padkos en presente gegee en hy het Jeremia laat gaan. 6Jeremia het na Gedalja toe in Mispa gegaan en hy het daar by hom gaan bly saam met die mense wat nog oorgebly het in die land.
Ismael vermoor die goewerneur Gedalja
(Kyk ook 2 Kon 25:22-24)
7Daar was nog offisiere van Juda in die veld. Hulle en hulle manne het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja gekies en aangestel het om oor die land te regeer. Gedalja moes regeer oor die mans, vroue en kinders wat nie na Babel moes gaan nie. Hulle was die arm mense van die land. 8Die offisiere het na Gedalja toe gekom in die stad Mispa. Die offisiere was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai van die stad Netofa, en Jesanja van die stad Maäka. Dit was die offisiere en hulle manne. 9Gedalja seun van Agikam seun van Safan het vir die offisiere en hulle manne gesê: “So seker soos die Here lewe, julle moenie bang wees vir die amptenare van die Galdeërs nie. Julle moet in die land woon en vir die koning van Babel werk, dan sal dit goed gaan met julle. 10Ek moet hier in Mispa bly, ek sal vir die Galdeërs wat hiernatoe kom, doen wat hulle nodig het. Maar julle kan vir julle wyn en vrugte en olyf-olie bymekaarmaak en dit in julle kruike sit. Dan kan julle gaan woon in die stede wat julle gevat het.”
11Daar was ook Judeërs in Moab en by die Ammoniete en in Edom en in ander lande. Hulle almal het gehoor dat die koning van Babel party mense in Juda laat bly het en dat hy vir Gedalja gekies en aangestel het om oor hulle te regeer. 12Al die Judeërs het toe teruggekom uit die lande waarnatoe hulle gevlug het. Hulle het na Gedalja toe gegaan in Mispa en hulle het baie wyn en vrugte bymekaargemaak. 13Joganan en die offisiere wat in die veld was, het na Gedalja toe gekom in Mispa 14en hulle het vir hom gesê: “Weet jy dat koning Baälis van die Ammoniete vir Ismael gestuur het om jou te vermoor?”
Maar Gedalja het hulle nie geglo nie. 15Toe Joganan alleen by Gedalja in Mispa was, het hy vir Gedalja gesê: “Asseblief, ek sal vir Ismael gaan vermoor. Niemand sal dit weet nie. Hoekom moet hy jou vermoor en al die Judeërs wegjaag na al die kante toe, die Judeërs wat hier by jou bymekaargekom het? As dit gebeur, dan sal daar niks van die Judeërs oorbly nie.”
16Gedalja het vir Joganan gesê: “Nee, jy moenie dit doen nie. Jy vertel leuens oor Ismael.”

Tans Gekies:

Jeremia 40: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid