1 KORINTIËRS 16

16
Die kollekte vir Jerusalem
1Wat die kollekte vir die gelowiges in Jerusalem betref, moet julle ook maak soos ek dit in die gemeentes van Galasië gereël het. 2Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie. 3Wanneer ek dan gekom het, sal ek die manne wat julle daarvoor goedkeur, met briewe stuur om julle liefdegawe na Jerusalem toe weg te bring. 4En as dit nodig is dat ek self ook gaan, kan hulle met my saamreis.
Paulus se reisplanne
5Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het, want ek gaan deur Masedonië. 6By julle sal ek moontlik oorbly of selfs die winter deurbring, dan kan julle my voorthelp op my verdere reis, waarheen dit ook al mag wees. 7Ek wil julle nou nie net in die verbygaan besoek nie, maar ek hoop om 'n tydjie by julle deur te bring, as die Here dit toelaat. 8Ek sal egter tot pinkster in Efese bly, 9want hier staan 'n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.
10Wanneer Timoteus kom, moet julle hom by julle laat tuis voel, want net soos ek, doen hy ook die werk van die Here. 11Niemand moet op hom neersien nie. Julle moet hom help om sy reis in vrede voort te sit sodat hy na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers.
12Wat die broer Apollos betref, ek het hom herhaaldelik versoek om saam met die broers na julle toe te gaan, maar hy wou beslis nie nou nie. Hy sal gaan sodra die tyd vir hom geleë is.
Laaste versoek en groete
13Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! 14Laat alles by julle in liefde geskied.
15Ek het nog 'n versoek aan julle, broers: julle weet van Stefanas en sy huisgesin, wat die eerste bekeerlinge in Agaje was, dat hulle hulle tot diens van die gelowiges gestel het. 16Stel julle onder die leiding van sulke mense en van elkeen wat saam met hulle werk en arbei.
17Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vir my die gemis aan julle vergoed. 18Hulle het my gees verkwik en ook julle s'n. Wees erkentlik teenoor sulke manne.
19Die gemeentes van die provinsie Asië stuur vir julle groete. Van Akwila en Priscilla en ook van die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom: baie groete in die Here. 20Al die broers stuur vir julle groete. Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap.
21Nou skryf ek met my eie hand: Groete, Paulus.
22As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Marana ta – kom, Here!
23Die genade van die Here Jesus sal by julle wees!
24My liefde is by julle almal in Christus Jesus.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid