1 KORINTIËRS 15

15
Die opstanding van Christus
1Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.
3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.
9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.
11In elk geval, of dit ek is of hulle – dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.
Die opstanding van die dooies
12As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.
29En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? 30En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? 31Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,
“laat ons eet en drink, want môre sterf ons!”
33Moet julle nie langer laat mislei nie:
“Slegte geselskap bederf goeie sedes.”
34Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.
Die opstandingsliggaam
35Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?
36Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38Maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy 'n eie gestalte.
39Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.
40Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.
42So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar 'n natuurlike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam. 45So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.
50Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. 51Kyk, ek maak 'n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.
54En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:
“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
55“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”
56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.
58Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid