Rut 4:1-12

Rut 4:1-12 AFR20

Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie hy gepraat het, daar verby. “Draai af hierheen, kom sit hier! ” sê Boas vir hom. Die man het afgedraai en gaan sit. Boas kry toe nog tien manne, van die dorp se oudstes, en sê vir hulle: “Kom sit hier!” Nadat hulle gaan sit het, sê hy vir die losser: “Die deel van die grond wat aan Elimeleg, ons familielid, behoort, word verkoop deur Naomi, wat teruggekom het van die gebied van Moab. Ek het gedink ek moet jou inlig en vir jou sê: Neem die grond oor in die teenwoordigheid van diegene wat hier sit en oudstes van my volk. As jy as losser wil optree, doen dit dan. Maar as jy nie as losser wil optree nie, sê dit vir my, sodat ek dit weet; want daar is niemand behalwe jy wat as losser kan optree nie, en ek is die volgende ná jou.” Die man sê toe: “Ja, ek sal as losser optree.” Daarop sê Boas: “Maar die dag wanneer jy die grond by Naomi oorneem en ook by Rut die Moabiet, wat die weduwee van die oorledene is, dan neem jy dit oor, sodat die oorledene se naam oor sy familiebesit kan voortleef. ” Toe sê die losser: “Nee, dan kan ek dit nie as losser vir my verkry nie, anders bederf ek daarmee my familiebesit. Neem jy my lossingsreg oor, want ek wil nie as losser optree nie.” Wanneer dit gegaan het oor lossingsreg en ruiltransaksies, was dít vroeër in Israel die gebruik om enige saak te bevestig: 'n Persoon moes sy sandaal uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het dan in Israel as bekragtiging van die saak gegeld. Toe die losser vir Boas sê: “Neem die lossingsreg vir jou oor,” het hy sy sandaal uitgetrek. Daarop sê Boas vir die oudstes en al die mense: “Vandag is julle getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kiljon en Maglon behoort, by Naomi oorneem. En ook Rut, die Moabiet, die vrou van Maglon, neem ek vir my oor as vrou om die naam van die oorledenes oor hulle familiebesit te laat voortleef, en sodat die naam van die oorledenes nie onder die familie en uit die poort van sy woonplek verdwyn nie. Julle is vandag getuies daarvan.” Al die mense wat by die dorpspoort was en die oudstes sê toe: “Ons is getuies. Mag die HERE gee dat die vrou wat in jou huis inkom soos Ragel en Lea sal wees, die twee wat die huis van Israel gebou het. Mag jy van krag tot krag gaan in Efrata en roem verwerf in Betlehem! Mag, uit die nageslag wat die HERE vir jou uit hierdie jong vrou gee, jou huis wees soos dié van Peres wat Tamar vir Juda in die wêreld gebring het.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Rut 4:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid