RUT 4:1-12

RUT 4:1-12 Die Boodskap (DB)

Intussen het Boas na die bymekaarkomplek by die ingang van die dorp toe gegaan en daar gaan sit en wag. Toe Elimeleg se naaste familielid, die een oor wie Boas met Rut gepraat het, daar verbykom, het Boas hom geroep en gesê: “Vriend, kom sit hier by my; ek wil graag met jou praat.” Die man het toe nader gestap en gaan sit. Boas het ook tien leiers van die dorp gevra om as getuies by hulle te kom sit. Boas sê toe vir die familielid: “Toe Naomi van Moab af teruggekom het, het sy besluit om die stuk grond wat aan ons familielid Elimeleg behoort het, te verkoop. Ek het gedink ek moet dit vir jou sê, en daarom is die getuies ook hier, dat jy die grond kan koop as jy dit wil hê. Dit is mos jou reg. Maar as jy dit nie wil hê nie, sê vir my, want ek is die volgende familielid wat die reg het om dit te koop as jy dit nie wil hê nie.” Die man sê toe: “Ek wil dit graag koop.” Boas antwoord toe: “Dis goed so, maar jy weet natuurlik dat as jy die stuk grond van Naomi koop, jy ook met haar skoondogter Rut moet trou sodat sy kinders kan hê wat die grond van hulle pa kan erf.” Die man sê toe: “As dit die geval is, wil ek nie die grond koop nie. Dit kan dalk my eie kinders benadeel. Koop jy dit maar liewer, ek sien nie kans daarvoor nie.” In daardie tyd was dit die gebruik in Israel om jou skoen uit te trek en dit aan die ander persoon te gee. Dit was ’n simboliese manier om te sê dat jy afstand doen van jou reg om die grond te koop of te ruil. Daarom, toe die ander familielid vir Boas sê: “Jy kan dit maar koop,” het hy sy skoen uitgetrek en dit vir Boas gegee. Toe sê Boas vir die leiers en die ander mense wat daar rondgestaan het: “Julle is vandag getuies dat ek al Elimeleg en sy twee seuns, Kiljon en Maglon, se eiendom van Naomi gekoop het. Daarmee saam word Maglon se weduwee, Rut, my vrou. So kan sy ’n seun kry wat ten minste sy pa se familienaam kan laat voortleef. Hy kan dan ook die familie se grond erf en hier in sy tuisdorp bly. Daarvan is julle vandag getuies.” Die leiers en die ander mense wat by die ingang van die dorp bymekaar was, het toe gesê: “Ons is getuies! Mag die Here Rut seën met baie kinders soos dié van Jakob se twee vroue, Ragel en Lea. Mag jy ’n belangrike man wees in Efrata. En mag jy in Betlehem iemand wees na wie die mense opsien. Mag die Here vir jou kinders by hierdie jong vrou gee, wat net so baie en so gelukkig sal wees soos dié van ons voorvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”

RUT 4:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Boas was toe al in die poort van die stad. Hy het daar gaan sit. Toe kom die ander man daar verby, die man wat ook 'n losser was. Boas het vir hom gesê: “My vriend, kom sit asseblief hier.” Die man het dit gedoen. Boas het tien van die stad se leiers geroep om ook daar te kom sit. Hulle het dit gedoen. Toe sê hy vir die man: “Daar is 'n stuk grond wat behoort het aan Elimelek wat familie van ons was. Naomi het teruggekom uit die land Moab, en sy wil hê dat 'n man wat familie is van haar man, die grond moet koop. Ek het gedink ek sal dit self vir jou sê. Jy mag nou die grond koop as jy wil, hier waar almal dit kan sien, die manne wat hier sit, die leiers van my volk. As jy dit nie wil doen nie, dan moet jy dit vir my sê, want dan moet ek dit koop.” Die man het gesê: “Goed, ek sal die grond koop.” Toe sê Boas: “Wanneer jy die grond by Naomi koop, dan kry jy ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Naomi se oorlede seun. Dan moet jy 'n seun by haar kry wat die grond eendag kan erf.” Toe sê die man: “Nee, dan kan ek nie die grond koop nie, want as ek met Rut trou, dan sal ek miskien die familie-grond verloor wat ek klaar het. Jý moet Naomi se grond koop, ek kan nie.” Daardie tyd, wanneer iemand nie 'n familielid kon help nie, dan het hy sy sandaal uitgetrek en dit vir die ander persoon gegee. Wanneer 'n man 'n stuk grond geruil het by iemand, dan het hy ook sy sandaal vir die ander man gegee. Dan het al die Israeliete dit geweet. Die man het vir Boas gesê: “Jý moet die grond koop,” en hy het sy sandaal uitgetrek. Toe sê Boas vir die leiers en vir almal wat daar was: “Julle is vandag die getuies dat ek by Naomi alles koop wat aan Elimelek en aan Maglon en Kiljon behoort het. Ek neem ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Maglon. Ek sal met haar trou, en as sy 'n seun kry, dan sal hy eendag die grond kry. So sal die naam van haar oorlede man nie verdwyn uit sy familie en uit die stad nie. Julle is vandag die getuies.” Al die mense in die poort en al die leiers het gesê: “Ja, ons is getuies. Ons bid dat die vrou wat nou in jou huis sal kom, soos Ragel en Lea sal wees, die twee vroue uit wie die volk Israel kom. Ons bid dat jy ryk sal word en dat jy 'n belangrike man sal wees hier in Betlehem. Ons bid dat die kinders wat die Here vir jou en hierdie jong vrou sal gee, sal wees soos die kinders van Peres, die seun van Juda en Tamar.”

RUT 4:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit. Daarop neem hy tien man uit die oudstes van die stad en sê: Sit hier! En hulle het gaan sit. En hy sê vir die losser: Die stuk grond van ons broer Eliméleg wil Naómi, wat uit die veld van Moab teruggekom het, verkoop. Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los. Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel. En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie. En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel. Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek. Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop. En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies. Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak 'n naam in Betlehem! En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het — uit die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!

RUT 4:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ondertussen het Boas na die stadspoort toe gegaan en daar gaan sit. Juis toe kom die losser van wie Boas gepraat het, daar verby. Boas roep toe: “Kom sit hier, my vriend.” Nadat hy kom sit het, het Boas ook tien leiers van die stad gevra om daar te kom sit, en hulle het dit gedoen. Boas sê toe vir die losser: “Naomi, die vrou wat uit Moab teruggekom het, bied die stuk grond wat aan ons familielid Elimelek behoort het, te koop aan. Ek het gedink ek behoort dit vir jou te sê. Koop dit nou in die teenwoordigheid van almal wat hier sit en voor die leiers van die volk; indien jy bereid is om as losser op te tree, doen dit dan, maar indien nie, sê dit vir my dat ek dit weet, want ek is ná jou die volgende een wat die lossersreg moet uitoefen.” Hy antwoord toe: “Ek is bereid om as losser op te tree.” Daarop sê Boas: “Wanneer jy die stuk grond van Naomi koop, kry jy terselfdertyd vir Rut die Moabitiese weduwee sodat die grond in die oorledene se familie bly.” Die losser sê toe: “In daardie geval sal ek my reg om as losser op te tree, laat vaar, want anders sou dit beteken dat my eie eiendom in gevaar kom. Tree jy nou maar as losser op, want ek sien nie meer daarvoor kans nie.” In Israel was dit gebruiklik by die lossingsprosedure of by die ruil van enige eiendom dat die een party 'n skoen uittrek en aan die ander party gee. Dit was die manier waarop die bekragtiging van 'n transaksie in Israel plaasgevind het. Die losser sê toe vir Boas: “Jy kan dit maar koop,” en die losser het sy skoen uitgetrek. Hierop sê Boas vir die leiers en almal teenwoordig: “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimelek en Kiljon en Maglon behoort het, van Naomi gekoop het en dat ek ook die Moabitiese vrou Rut, die weduwee van Maglon, vir my as vrou gekry het. So sal die grond in die oorledene se familie bly en sy nagedagtenis nie vergeet word in die volkslewe nie. Ja, julle is vandag getuies.” Die leiers en almal wat in die stadspoort bymekaar was, het toe bevestig: “Ons is getuies. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis inkom, soos Ragel en Lea maak wat saam gebou het aan die volk Israel. Verwerf aansien in Efrata en maak naam vir jouself in Betlehem. Mag die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee, wees soos dié van Peres wat deur Tamar vir Juda in die wêreld gebring is.”

RUT 4:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Boas het na die dorpspoort gegaan en daar gaan sit en wag. Toe die losser van wie hy gepraat het, daar verbykom, roep Boas hom. “Kom hiernatoe, vriend. Ek wil met jou praat.” Hy het by hom gaan sit. Toe roep Boas tien van die leiers van die dorp nader en vra hulle om as getuies op te tree. Boas sê vir die losser: “Naomi wat uit Moab teruggekom het, wil die landerye wat aan ons bloedverwant Elimelek behoort het, verkoop. Ek het gedink ek moet met jou hieroor praat sodat jy as losser kan optree as jy wil. As jy die landerye wil hê, moet jy hier in die teenwoordigheid van hierdie getuies verklaar dat jy as losser sal optree. Maar as jy dit nie wil doen nie, moet jy my dadelik sê, want ek is die volgende losser ná jou.” Die man antwoord hom: “Dis goed. Ek sal as losser optree.” Toe sê Boas vir hom: “Hou net in gedagte dat wanneer jy die landerye van Naomi loskoop, jy ook met Rut, die Moabitiese weduwee, sal moet trou. Op hierdie manier sal sy kinders kan hê wat haar man se naam kan voortsit en die landerye in die familie hou.” “In so ’n geval wil ek nie as losser optree nie,” antwoord die naaste losser, “want dit kan my eie erfporsie in gevaar stel. Jy kan gerus as losser optree, want ek wil nie.” Destyds was dit die gebruik in Israel by die lossingproses of die oordrag van eiendomsregte dat die transaksie soos volg bevestig word: Die een wat sy regte aan iemand anders oordra, moet ook sy skoen uittrek en dit vir die ander party gee. Dit het die transaksie bekragtig. Die ander losser trek toe sy skoen uit en sê vir Boas: “Jy kan dit koop.” Toe sê Boas vir die leiers en die mense om hulle: “Julle is getuie dat ek vandag Elimelek, Kiljon en Maglon se eiendom by Naomi loskoop. “Saam met die landerye verkry ek ook vir Rut, die Moabitiese weduwee van Maglon, as my vrou. Op hierdie manier sal die grond in die naam van die familie bly. So sal die naam van die gestorwene nie onder sy broers en uit die poort van sy woonplek uitgewis word nie. Julle is vandag almal getuie daarvan.” Toe sê die leiers en almal wat daar staan: “Ons is getuie. Mag die HERE die vrou wat nou in jou huis inkom, maak soos Ragel en Lea, van wie die hele volk afgestam het. Mag jy aansien in Efrata en beroemdheid in Betlehem verwerf. “Mag die HERE deur hierdie vrou vir jou afstammelinge gee wat sal wees soos ons stamvader Peres, die seun van Tamar en Juda.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid