Ester 9:6-32

Ester 9:6-32 AFR20

In die vestingstad Susan het die Jode vyfhonderd mense doodgemaak en uitgewis. Hulle het ook Parsandata en Dalfon en Aspata en Porata en Adalja en Aridata en Parmasta en Arisai en Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en teenstander van die Jode, doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Die aantal mense wat in die vestingstad Susan doodgemaak is, is nog dieselfde dag aan die koning bekend gemaak. Die koning het vir koningin Ester gesê: “In die vestingstad Susan het die Jode 'n slagting aangerig. Hulle het 500 mense uitgewis, ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nie in die res van die provinsies van die koning gedoen het nie! Wat jy versoek, word aan jou gegee. Wat jy verder wens, sal toegestaan word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedkeur, gee dan die Jode in Susan die toestemming om môre ook die wet soos vandag uit te voer en laat hulle die tien seuns van Haman aan die paal hang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word. 'n Wet is in Susan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is gehang. Die Jode wat in Susan was, het weer bymekaargekom op die veertiende dag van die maand Adar. Hulle het nog driehonderd mense in Susan doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Intussen is die res van die Jode in die koning se provinsies ook bymekaar geroep om hulle lewens te verdedig en verligting te kry van hulle vyande. Hulle het 75 000 van hulle haters doodgemaak, maar nie 'n hand op die buit gelê nie. Dit het alles gebeur op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode wat in Susan was, het egter bymekaargekom op die dertiende en die veertiende dag. Eers op die vyftiende dag het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode wat in dorpe op die platteland woon, die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle eetgoed aan mekaar stuur. Mordegai het hierdie gebeure opgeskryf. Hy het toe briewe gestuur na al die Jode, naby en ver, in al die provinsies van koning Ahasveros, en hulle gelas om elke jaar die veertiende en die vyftiende dag van die maand van Adar te herdenk as die dae waarop die Jode bevry is van hulle vyande, as die maand waarin hulle droefheid verander is in blydskap en 'n tyd van rou in 'n tyd van feesviering. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed stuur en aan die armes geskenke uitdeel. Die Jode het onderneem om voort te gaan met wat hulle begin het om te doen soos wat Mordegai vir hulle voorgeskryf het. Want Haman, seun van Hammedata, die Agagiet, die vyand van al die Jode, het beplan om die Jode te vernietig. Hy het deur die Pur, dit is met die lot, beslis dat hulle ontwrig en vernietig moet word. Maar weens Ester se intrede by die koning het hy skriftelik beveel: “Haman se bose plan wat hy teen die Jode bedink het, moet op sy eie kop neerkom.” Toe het hulle hom en sy seuns aan die paal gehang. Daarom noem hulle hierdie dae Purim, na die naam Pur. Op grond van al die woorde in hierdie brief en alles wat hulle van die gebeure gesien en beleef het, het die Jode dit ingestel en hulle daaraan verbind, hulle en hulle nageslag, en almal wat by hulle aansluit, om nie hierdie twee dae na te laat nie, maar om dit altyd jaarliks, soos dit voorgeskryf is, op die vasgestelde tyd te eerbiedig. Hierdie dae moet onthou en gevier word deur elke volgende generasie, deur elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag onder die Jode nie nagelaat word nie en die herinnering daaraan mag onder hulle nageslagte nie vergete raak nie. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, asook Mordegai, die Jood, het met volle gesag hierdie tweede brief geskryf om die Purim te bevestig. Die briewe is gestuur aan al die Jode in die 127 provinsies van Ahasveros se koninkryk – woorde van vrede en trou – om hierdie dae van Purim te bevestig op die tye soos wat Mordegai, die Jood, en koningin Ester dit vir hulle vasgestel het, en soos wat hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het volgens die voorskrifte van vas en weeklag. 'n Bevel van Ester het hierdie voorskrifte van die Purim bevestig en dit is in 'n •boekrol opgeskryf.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Ester 9:6-32

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid