ESTER 9:6-32

ESTER 9:6-32 Bybel vir almal (ABA)

Die Judeërs het 500 mense in die stad Susan doodgemaak. Hulle het ook die tien seuns van Haman doodgemaak. Die seuns was Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Haman was die seun van Hammedata, hy was die vyand van die Judeërs. Maar die Judeërs het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Toe die koning daardie dag hoor hoeveel mense in Susan dood is, het hy vir koningin Ester gesê: “Die Judeërs het hier in die stad Susan 500 persone doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Ek wonder hoeveel mense hulle in die ander provinsies doodgemaak het. Wat wil jy nog vir my vra? Ek sal dit vir jou gee. Jy moet sê wat jy nog wil hê, en ek sal dit doen.” Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.” Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang. Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag 'n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. Maar die Judeërs in die stad Susan het op die 13de én op die 14de dag bymekaargekom en hulle het op die 15de dag gerus. Daarom het hulle besluit dat die 15de dag 'n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag 'n feesdag gemaak. Dit is 'n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar. Mordegai het al hierdie dinge opgeskryf, en hy het briewe geskryf vir die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf vir die Jode wat naby was en ook vir die Jode wat ver was. Mordegai het gesê hulle moet elke jaar op die 14de en die 15de dag van die maand Adar feesvier. Die Judeërs moet op daardie dae onthou dat hulle al hulle vyande oorwin het. Hulle moet ook onthou dat dit die maand is wanneer hulle hartseer sou gewees het en sou gerou het, maar dit het só verander dat hulle bly kon wees en kon feesvier. Dit was nou dae wanneer hulle vir mekaar kospakkies stuur en vir arm mense presente gee. Die Judeërs het aangehou om te doen wat hulle begin doen het, soos Mordegai vir hulle geskryf het. Haman seun van Hammedata, van die nageslag van Agag, was die vyand van die Judeërs. Hy wou die Judeërs almal doodmaak. Hy het die “pur” gegooi, dit beteken hy het lootjies getrek om te weet op watter dag hy hulle almal moet laat doodmaak. Maar toe het Ester by die koning gekom, en die koning het anders besluit. Hy het gesê hulle moet skryf dat die slegte plan wat Haman teen die Judeërs gemaak het, met homself moet gebeur. Hulle het toe vir Haman en sy seuns aan die paal opgehang. Daarom noem hulle hierdie feesdae Purim, want hulle het die “pur” gegooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Die Judeërs vier fees op hierdie dae omdat Mordegai dit so geskryf het in sy brief en omdat dit alles so met hulle gebeur het. Die Judeërs het besluit dat hulle en hulle nageslag en almal wat Judeërs word, hierdie twee dae altyd sal vier op die regte tyd. Elke geslag, elke familie, elke provinsie, elke stad, sal op hierdie dae altyd feesvier. Die Judeërs en hulle nageslag sal hierdie dae van Purim nie vergeet nie. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Judeër Mordegai het geskryf en gesê dat die Judeërs alles moet doen wat in hierdie tweede brief oor die Purimfees geskryf is. Mordegai het die briewe gestuur na al die Judeërs in die 127 provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf dat hy wil hê hulle moet veilig wees en vrede hê. Hy het ook gesê dat die Judeërs hierdie twee dae van die Purimfees op die regte tyd moet vier soos hy en koningin Ester besluit het en soos die Judeërs self besluit het. Hy het gesê dat hulle nageslag dit ook moet doen. Mordegai het ook geskryf hoe die Judeërs moet vas en rou. Ester het besluit hoe hulle die Purimfees moet vier, en hulle het dit geskryf in 'n boek.

ESTER 9:6-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En in die vesting Susan het die Jode vyfhonderd man gedood en uitgeroei; en Parsandáta en Dalfon en Aspáta, en Poráta en Adálja en Aridáta, en Parmásta en Arísai en Arídai en Waisáta, die tien seuns van Haman, die seun van Hammedáta, die teëstander van die Jode, het hulle gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. Op dieselfde dag het die getal van die wat in die vesting Susan gedood is, voor die koning gekom; en die koning het aan koningin Ester gesê: In die vesting Susan het die Jode vyfhonderd man gedood en uitgeroei benewens die tien seuns van Haman; wat sou hulle wel in die ander provinsies van die koning gedoen het? Wat is dan jou bede? — dit sal jou toegestaan word. En wat is verder jou versoek? — daaraan sal voldoen word. Toe sê Ester: As die koning dit goedvind, laat môre ook aan die Jode wat in Susan is, toegestaan word om te handel volgens die wet wat geld vir vandag; en laat hulle die tien seuns van Haman aan die galg ophang. En die koning het bevel gegee om so te doen; en 'n wet is in Susan uitgevaardig, en hulle het die tien seuns van Haman opgehang. En die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand Adar saamgekom; en hulle het in Susan driehonderd man gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. En die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; en hulle het onder hul haters vyf-en-sewentigduisend omgebring, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie. Dit was op die dertiende dag van die maand Adar; en op die veertiende daarvan het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak. Maar die Jode wat in Susan was, het op die dertiende en die veertiende daarvan byeengekom, en op die vyftiende daarvan gerus, sodat hulle dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak het. Daarom maak die Jode wat buite in die onbemuurde stede woon, van die veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vrolikheid en maaltyd en 'n feesdag waarop hulle mekaar lekkernye stuur. EN Mórdegai het hierdie dinge opgeskrywe en briewe gestuur aan al die Jode wat in al die provinsies van koning Ahasvéros was, die wat naby en die wat ver was, om vir hulle vas te stel dat hulle elke jaar die veertiende dag van die maand Adar en die vyftiende daarvan moes vier — as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is — dat hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en aan die armes gawes te stuur. En die Jode het as insetting aangeneem wat hulle begin het om te doen en wat Mórdegai aan hulle geskryf het. Want Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, teëstander van al die Jode, het 'n plan beraam teen die Jode om hulle uit te roei, en die Pur, dit is die lot, gewerp om hulle te vernietig en hulle uit te roei. Maar toe dit voor die koning kom, het hy skriftelik bevel gegee dat sy goddelose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes neerkom; en hulle het hom en sy seuns aan die galg opgehang. Daarom noem hulle dié dae Purim, na die naam Pur. Hierom, vanweë al die woorde van daardie brief en wat hulle self daarvan gesien het en wat hulle oorgekom het, het die Jode vasgestel en as insetting aangeneem vir hulle en hulle nageslag en vir almal wat hulle by hulle sou aansluit, sodat dit onherroeplik sou wees, dat hulle dié twee dae al jare sou hou volgens die voorskrif daaromtrent en op die bepaalde tyd; en dat dié dae herdenk en gehou moet word in al die geslagte, families, provinsies en stede, en dat dié Purim-dae onder die Jode nie afgeskaf mag word nie en die gedagtenis daaraan onder hulle nageslag nie mag ophou nie. En koningin Ester, die dogter van Abígail, en die Jood Mórdegai het met alle nadruk geskrywe om hierdie tweede brief oor die Purim krag te verleen. En hy het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd-sewen-en-twintig provinsies, die koninkryk van Ahasvéros, woorde van vrede en trou, om dié Purim-dae op hulle bepaalde tye vas te stel soos die Jood Mórdegai en koningin Ester dit vir hulle verorden het, en soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het. En die bevel van Ester het die voorskrifte vir hierdie Purim vasgestel, en dit is in 'n boek geskrywe.

ESTER 9:6-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak. Hulle het ook vir Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata, die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en vyand van die Jode, doodgemaak. Op hulle besittings het hulle egter nie beslag gelê nie. Dieselfde dag nog het die koning berig gekry van die getal mense wat in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nog in die ander provinsies van my ryk gedoen het! Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy 'n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Ester sê toe: “As die koning dit goedvind, laat die Jode in Susan toe om ook môre te doen wat hulle vandag kon doen. En laat die lyke van die tien seuns van Haman aan die galg ophang.” Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word, en so 'n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Ook is die lyke van die tien seuns van Haman opgehang. Die Jode in Susan het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog drie honderd man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het intussen bymekaargekom en hulle verdedig. Hulle het die bedreiging deur hulle vyande afgeweer en van hulle haters vyf en sewentig duisend man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie. Dit het gebeur op die dertiende van die maand Adar. Op die veertiende van die maand het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Die Jode in Susan het egter op die dertiende én op die veertiende van die maand bymekaargekom. Hulle het eers op die vyftiende van die maand gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak. Daarom maak die Jode op die platteland en dié wat in die klein dorpies woon, die veertiende van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur. Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar. Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang. Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het, het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind. Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie. Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig. Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker. Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.

ESTER 9:6-32 Die Boodskap (DB)

In Susan alleen het hulle 500 mense doodgemaak. Onder hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, die vyand van die Jode: Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Maar die Jode het nie hierdie mense se besittings gevat nie. Die koning is daardie selfde dag nog ingelig oor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode, buiten die tien seuns van Haman, nog 500 mense doodgemaak. As hulle dit hier gedoen het, dink net wat in die res van die provinsies gebeur het! Nou, is daar nog iets wat jy wou gehad het? Sê net en jy sal dit kry. Jy hoef net te vra.” Hierop was Ester se antwoord: “As dit die koning se goedkeuring wegdra, laat die Jode in Susan môre weer toe om te doen wat hulle vandag gedoen het. En wat die lyke van die tien seuns van Haman betref, laat hulle in die openbaar ten toon gestel word.” Die koning het ingestem en so ’n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is ook in die openbaar ten toon gestel. Op 8 Maart het die Jode van Susan weer bymekaargekom en nog 300 mense in die stad doodgemaak. Maar hulle het weereens nie hierdie mense se besittings gevat nie. Die Jode in die ander provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself teen hulle vyande te verdedig. Hulle het goed daarin geslaag, want hulle het 75 000 van hulle doodgemaak, maar nie hulle besittings gevat nie. Dit het op 7 Maart gebeur, maar die volgende dag het hulle opgehou om mense dood te maak. Hulle het vrolik feesgevier. Die Jode in die stad Susan het egter op 7 en 8 Maart nog teen hulle vyande geveg. Hulle het eers op die negende Maart opgehou en dit toe as ’n feesdag vol vreugde gevier. Daarom vier die Jode wat op die platteland bly, hierdie feesdag nog steeds op die agtste Maart. Dit is ’n vrolike fees waarop hulle vir mekaar lekkernye en kos stuur. Mordegai het al hierdie dinge laat neerskryf en vir al die Jode oral in die provinsies van koning Ahasveros se ryk briewe gestuur. Daarin het hy hulle aangemoedig om jaarliks hierdie twee dae as feesdae te vier. Dit sou hulle daaraan herinner dat hulle op hierdie dae hulle vyande oorwin het. En dat hulle hartseer in vreugde en hulle rou in blydskap verander is. Daarom moes dit ’n vrolike fees wees waarop hulle vir mekaar lekkernye en vir die armes geskenke gee. Die Jode het van Mordegai se idee gehou en dit as ’n jaarlikse fees ingestel. Haman, die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete en ’n vyand van die Jode, het die lot gewerp (ook genoem die Pur) om te bepaal watter dag hy sou gebruik om die Jode te vernietig. Hy was van plan om hulle totaal uit te roei. Maar toe die koning daarvan te hore kom, het hy ’n skriftelike opdrag gegee dat Haman en sy seuns self die slagoffers moes word van sy bose plan. So het hulle almal uiteindelik in die openbaar aan die galg gesterf. Daarom word hierdie fees die Purimfees genoem, want dit word afgelei van die woord “Pur”. Na aanleiding van alles wat Mordegai in sy brief geskryf het en alles wat hulle self ervaar het, het die Jode besluit dat hierdie twee dae deur hulle en hulle nageslagte, asook deur mense uit ander volke wat by hulle aangesluit het, as feesdae gevier moes word. Hulle het besluit om hulle streng te hou by die reëls en voorskrifte van die fees. Hulle het beveel dat elke Joodse familie van elke toekomstige geslag in elke provinsie en in elke stad hierdie twee dae moes herdenk en die Purimfees vir altyd moes vier. Toe het koningin Ester, die dogter van Abigajil en die Jood Mordegai, ook ’n brief geskryf waarin sy die brief wat Mordegai vroeër geskryf het, ondersteun. Op hierdie manier het sy die Purimfees bekragtig. Ander briewe met wense van vrede en voorspoed is ook aan die Jode in die 127 provinsies in die ryk van koning Ahasveros gestuur. Hierdie briewe het hulle en hulle nageslagte aangemoedig om die Purimfees te hou soos die Jood Mordegai en koningin Ester dit bepaal het. Hulle moes dit net so getrou en noukeurig nakom soos hulle met die vasdae en routye gemaak het. Ester se voorskrifte oor die Purimfees is toe in ’n boek neergeskryf.

ESTER 9:6-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak. Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata, die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie. Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is. Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.” Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.” Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang. Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie. Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie. Dit was op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag van die maand het hulle gerus. Hulle het daarvan ’n dag gemaak waarop hulle feesmaaltye gemaak het en hulle oorwinning gevier het. Die Jode wat in Susan gebly het, het op sowel die dertiende as die veertiende dag bymekaargekom om te veg. Hulle het eers op die vyftiende van die maand tot rus gekom en daarvan ’n dag van feesviering en vreugde gemaak. Dit is hoekom die Jode wat op die platteland en in klein dorpies sonder veiligheidsmure woon, op die veertiende van die maand Adar ’n jaarlikse vakansiedag van vreugde en feesviering hou waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur. Mordegai het laat opteken wat gebeur het. Hy het briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, aan dié wat naby bly en dié wat ver is. Hy het die Jode opdrag gegee om elke jaar op die veertiende en die vyftiende van die maand Adar fees te vier. Hulle moet op daardie dae feesvier en bly wees en vir mekaar eetgoed stuur en geskenke vir die arm mense gee. Hulle moet dit in herinnering roep as die dae waarop die Jode van hulle vyande bevry is. Hulle vrees is in blydskap verander en hulle droefheid in feesviering. Die Jode het die opdrag in Mordegai se brief aanvaar en dit as ’n vaste instelling begin vier. Haman, die seun van Hammedata die Agagiet en vyand van die Jode, het planne gemaak om die Jode uit te roei. Hy het met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei. Toe Ester egter na die koning gegaan het, het hy ’n brief laat skryf om Haman se bose plan teen die Jode op sy eie kop te laat neerkom. Hy en sy seuns is aan hulle eie galg opgehang. Dit is hoekom hierdie feesdae Purim genoem word, in aansluiting by die woord Pur. Na aanleiding van alles wat Mordegai in daardie brief geskryf het en alles wat hulle gesien en belewe het, het die Jode hulleself en hulle nageslag onherroeplik daartoe verbind om nooit na te laat om elke jaar hierdie twee dae te vier nie. Dit moes elke jaar op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd gebeur. Hierdie dae moes deur elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad herdenk en onderhou word. Hierdie dae van die Purim mag nooit in die Joodse gemeenskap oorgeslaan word nie. Hulle nageslag mag nooit daarvan vergeet nie. Koningin Ester, die dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het saam en met hulle volle gesag ’n tweede brief geskryf om die reëlings oor die Purim te bevestig. Mordegai het afskrifte van die brief aan al die Jode in die 127 provinsies van koning Ahasveros gestuur om hulle heil en voorspoed toe te wens. Die briewe het hulle beveel om die dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle en hulle nakomelinge hulle daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in ’n boek opgeskryf.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid