Ester 5:1-8

Ester 5:1-8 AFR20

Op die derde dag het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koninklike paleis voor die troonsaal gaan staan, terwyl hy op sy koninklike troon in die troonsaal regoor die ingang sit. Die oomblik toe hy koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy guns gevind in sy oë. Hy het die goue septer in sy hand na haar uitgesteek. Sy het nader gegaan en die punt van die septer aangeraak. Die koning sê toe vir haar: “Wat is dit, koningin Ester? Wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word.” Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat u en Haman vandag na die feesmaal kom wat ek vir u voorberei het.” Die koning het beveel: “Laat Haman dadelik kom sodat ons kan voldoen aan Ester se versoek.” Die koning en Haman het toe na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het. Terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: “Wat jou versoek ook al is, dit sal vir jou gegee word. En wat jou wens ook al is, al is dit die helfte van my koninkryk, dit sal toegestaan word.” Ester het toe geantwoord en gesê: “My versoek en my wens is: As die koning my goedgesind is, en as u dit goedvind om aan my versoek te voldoen en my wens toe te staan, laat die koning en Haman kom na die feesmaal wat ek vir hulle sal voorberei. Môre sal ek doen wat die koning vra.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid