ESTER 5:1-8

ESTER 5:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OP die derde dag het Ester haar koninklik aangetrek en gaan staan in die binneste voorhof van die paleis van die koning, teenoor die saal van die koning, terwyl die koning op sy koninklike troon sit in die koninklike saal, teenoor die ingang van die saal. En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade in sy oë gevind; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester uitgesteek; en Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak. Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester, of wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk — dit sal jou gegee word. Daarop antwoord Ester: As die koning dit goedvind, laat die koning dan vandag met Haman na die maaltyd kom wat ek vir hom berei het. En die koning sê: Bring Haman gou, dat ons kan handel volgens die woord van Ester! En die koning en Haman het gegaan na die maaltyd wat Ester berei het. En terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: Wat is jou bede? — dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk — daaraan sal voldoen word. Daarop antwoord Ester en sê: My bede en my versoek is: As ek genade gevind het in die oë van die koning, en as die koning dit goedvind om my bede toe te staan en aan my versoek te voldoen, laat die koning en Haman na die maaltyd kom wat ek vir hulle sal berei, dan sal ek môre na die wens van die koning handel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid