2 Samuel 12:15-20

2 Samuel 12:15-20 AFR20

Toe het Natan huis toe gegaan. Die HERE het die kind wat die vrou van Urija vir Dawid in die wêreld gebring het, getref, en hy het ernstig siek geword. Dawid het by God gepleit vir die seuntjie. Dawid het streng gevas, hy het na binne gegaan en die nag deurgebring deur op die grond te lê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gaan staan en probeer om hom van die grond af te laat opstaan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle iets geëet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Die dienaars van Dawid was bang om vir hom te vertel dat die kind dood is, want hulle het gesê: “Kyk, terwyl die kind geleef het, het ons met hom gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe moet ons dan vir hom sê die kind is dood? Hy sal iets onverantwoordeliks doen.” Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: “Is die kind dood?” Hulle het gesê: “Ja, hy is.” Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die HERE ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Samuel 12:15-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid