2 SAMUEL 12:15-20
2 SAMUEL 12:15-20 Bybel vir almal (ABA)
Natan het huis toe gegaan. Die Here het die kind siek laat word wat die vrou van Urija vir Dawid gekry het. Dawid het tot God gebid vir die kind en hy het gevas en in sy kamer ingegaan. Hy het die hele nag op die grond gelê. Die amptenare in sy paleis het probeer om hom te laat opstaan van die grond, maar hy wou nie en hy wou ook nie saam met hulle eet nie. Die kind het op die sewende dag gesterf. Dawid se amptenare was bang om vir hom te sê dat die kind dood is. Hulle het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Ons kan nie nou vir hom sê dat die kind dood is nie. Hy sal miskien 'n verkeerde ding doen.” Dawid het gesien dat sy amptenare fluister en hy het besef dat die kind dood is. Hy vra toe vir sy amptenare of die kind dood is, en hulle het gesê: “Ja, hy is dood.” Toe staan Dawid op en hy was en hy smeer lekkerruik-olie aan homself. Hy het ander klere aangetrek en hy het na die tempel-tent gegaan en gebid. Daarna het hy huis toe gegaan en kos gevra. Hulle het vir hom kos gegee en hy het geëet.
2 SAMUEL 12:15-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe gaan Natan na sy huis. En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het. En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het 'n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê. Daarop kom die oudstes van sy huis na hom en wou hom van die grond laat opstaan, maar hy wou nie; ook het hy geen brood saam met hulle geëet nie. En op die sewende dag het die kind gesterwe; en die dienaars van Dawid was bevrees om hom te vertel dat die kind dood was, want hulle het gesê: Kyk, toe die kind nog in die lewe was, het ons met hom gespreek, maar hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons dan vir hom sê: Die kind is dood! — hy kan 'n verkeerde ding doen. Maar toe Dawid sien dat sy dienaars onder mekaar fluister, het Dawid gemerk dat die kind dood was. En Dawid sê aan sy dienaars: Is die kind dood? En hulle antwoord: Hy is dood. Toe het Dawid van die grond opgestaan en hom gewas en gesalf en ander klere aangetrek en in die huis van die HERE gegaan en aanbid. Daarop het hy in sy huis gekom en gevra dat hulle brood aan hom moet voorsit; en hy het geëet.
2 SAMUEL 12:15-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is. Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.” Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord. Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.
2 SAMUEL 12:15-20 Die Boodskap (DB)
Nadat Natan daar weg is huis toe, het die Here die kind van Dawid en Urija se vrou laat siek word. Dawid het God mooi gevra om die kind te laat bly lewe. Hy het niks geëet nie en daardie nag in sy kamer op die grond gelê. Hy het rouklere aangetrek. Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie. ’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!” Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?” “Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord. Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet.
2 SAMUEL 12:15-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Natan daar weg is, het die HERE die kind van Urija se vrou en Dawid dodelik siek laat word. Dawid het die HERE gesmeek om die kind se lewe te spaar. Hy het gevas, en die hele nag op die vloer gelê. Die oudstes van sy huishouding het by hom gepleit om op te staan, maar hy het geweier en wou nie saam met hulle eet nie. Op die sewende dag het die kind gesterf. Dawid se amptenare was bang om dit vir hom te vertel. “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy wou nie vir ons luister nie,” het hulle gesê. “Watter onverantwoordelike ding sal hy dalk doen as ons hom vertel dat die kind dood is?” Dawid het opgemerk dat hulle onder mekaar fluister en hy het besef dat die kind gesterf het. “Is die kind dood?” vra hy. “Ja, hy is dood,” antwoord hulle. Toe het Dawid van die grond af opgestaan, homself gewas en reukolie aangesmeer. Nadat hy skoon klere aangetrek het, het hy in die heiligdom ingegaan en daar aanbid. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en kos gevra. Hulle het dit gebring en hy het geëet.