2 Konings 14:23-29

2 Konings 14:23-29 AFR20

In die vyftiende regeringsjaar van Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda, het Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel, in Samaria koning geword, een-en-veertig jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het nie afgewyk van al die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het nie. Hy is die een wat die gebied van Israel herstel het, van Lebo-Hamat af tot by die See van die Araba, volgens die woord van die HERE, die God van Israel, wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg Jona, seun van Amittai, die profeet wat uit Gat-Gefer gekom het. Die HERE het immers gesien dat die ellende van Israel baie bitter was. Dit was klaarpraat met wie gevange geneem is en wie vrygelaat is; en daar was geen helper vir Israel nie. Die HERE het nie te kenne gegee dat Hy Israel se naam onder die hemel sou uitwis nie, en Hy het hulle verlos deur die hand van Jerobeam, seun van Joas. Die verdere geskiedenis van Jerobeam, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy oorlog gevoer het, en hoe hy Damaskus en Hamat, wat vroeër aan Juda onderdanig was, weer onder beheer van Israel gebring het. Is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Jerobeam het by sy voorouers gaan rus, by die konings van Israel. Sagaria, sy seun, het in sy plek koning geword.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 14:23-29

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid