2 KONINGS 14:23-29
2 KONINGS 14:23-29 Bybel vir almal (ABA)
Jerobeam seun van Joas het in Samaria koning van Israel geword in die vyftiende jaar nadat Amasia koning van Juda geword het. Jerobeam was 41 jaar lank koning. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. Jerobeam seun van Joas het die grond weer teruggevat wat voorheen aan Israel behoort het, dit was van die stad Lebo-Hamat tot by die Dooie See. Dit het gebeur soos die Here gesê het toe Hy sy dienaar Jona seun van Amittai gestuur het om 'n boodskap te bring. Jona was die profeet wat van die stad Gat-Gefer gekom het. Die Here het gesien dit gaan sleg met Israel, baie sleg. Daar was toe niemand wat vir Israel kon help nie, nie 'n slaaf of 'n vry mens nie. Die Here wou nie almal in die land Israel laat sterf nie, en Hy het vir Jerobeam seun van Joas gehelp om vir Israel te red. Al die ander dinge wat Jerobeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Hy het dapper dinge gedoen toe hy oorlog gemaak het en die stede Damaskus en Hamat teruggevat het. Damaskus en Hamat het voorheen aan Israel behoort. Jerobeam het gesterf, en sy seun Sagaria het koning geword ná hom.
2 KONINGS 14:23-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In die vyftiende jaar van Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het Jeróbeam, die seun van Joas, die koning van Israel, in Samaría koning geword — een-en-veertig jaar lank. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie. Hý het die grondgebied van Israel herower van die ingang na Hamat af tot by die see van die Vlakte, volgens die woord van die HERE, die God van Israel, wat Hy gespreek het deur die diens van sy dienskneg Jona, die seun van Amíttai, die profeet, wat uit Gat-Hefer was. Want die HERE het gesien dat die ellende van Israel baie bitter was en dit met almal sonder uitsondering gedaan was en Israel geen helper gehad het nie. En die HERE het nog nie gespreek dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitdelg nie; daarom het Hy hulle verlos deur Jeróbeam, die seun van Joas. En die verdere geskiedenis van Jeróbeam en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy geveg en hoe hy Damaskus en Hamat van Juda aan Israel teruggebring het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Jeróbeam het ontslaap met sy vaders, met die konings van Israel, en sy seun Sagaría het in sy plek koning geword.
2 KONINGS 14:23-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie. Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenstemming met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer. Die Here het die bittere ellende van Israel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper. Die Here het nie gesê dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitwis nie, daarom het Hy hulle deur Jerobeam seun van Joas gered. Die ander verhale oor Jerobeam en alles wat hy gedoen het, oor hoe dapper hy geveg het en hoe hy Damaskus en Hamat weer onder die gesag van Israel gebring het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Jerobeam is oorlede, en sy seun Sagaria het hom as koning opgevolg.
2 KONINGS 14:23-29 Die Boodskap (DB)
In die vyftiende jaar wat koning Amasia in Juda regeer het, het Jerobeam II, die seun van Joas, koning in Israel geword. Hy het 41 jaar in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met Jerobeam II se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. Maar tog het hy al die grond wat Israel verloor het, teruggeneem. Hy het Israel se grense van Lebo-Hamat af tot by die Dooie See herstel. Dit het gebeur volgens die uitspraak van die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona, die seun van Amittai, uit die dorp Gat-Gefer. Die Here het die bitter lyding van die Israeliete gesien. Hulle was heeltemal gedaan, want daar was niemand wat hulle kon help nie. Aangesien die Here nie besluit het om Israel van die aardbodem af weg te vee nie, het Hy Jerobeam II, die seun van Joas, gebruik om hulle te red. Die res van Jerobeam II se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, ook sy dapperheid in gevegte en hoe hy Damaskus en Hamat vir Israel teruggeneem het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is Jerobeam II by die konings van Israel begrawe. Hy is deur sy seun Sagaria opgevolg.
2 KONINGS 14:23-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jerobeam II seun van Joas het koning van Israel geword in die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia, seun van Joas in Juda. Jerobeam II het 41 jaar in Samaria regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel verlei het, laat vaar nie. Jerobeam II het die gebiede van Israel tussen Lebo-Hamat en die see in die Jordaanvallei herower. Dit was net soos die HERE, die God van Israel, deur die profeet Jona seun van Amittai uit Gat-Gefer gesê het. Want die HERE het die bittere lyding in Israel gesien, en dat daar hoegenaamd niemand was wat hulle kon help nie. Die HERE het nog nie gesê dat Hy die naam van Israel heeltemal sou uitwis nie. Daarom het Hy Jerobeam II, seun van Joas, gebruik om hulle te red. Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Jerobeam II, alles wat hy gedoen het, asook sy heldedade, sy oorloë en hoe hy Damaskus en Hamat, wat aan Juda behoort het, vir Israel herower het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Jerobeam II sterf, is hy begrawe in die familiegraf van die konings van Israel. Sy seun Sagaria het hom opgevolg.