Jeremia 29

29
Die brief van Jeremia aan die Judeërs in Babel
1Die profeet Jeremia was in Jerusalem en hy het 'n brief geskryf vir die leiers van die Judeërs wat in Babel was en vir die priesters en al die mense vir wie Nebukadnesar weggevat het uit Jerusalem na Babel. Hy het die brief geskryf vir almal wat nog gelewe het.
2Dit het gebeur toe koning Jojagin en sy ma na Babel moes gaan, en saam met hulle almal wat in die paleis gewerk het en die amptenare van Juda en Jerusalem en die ambagsmanne en die ander mense wat goed met hulle hande kon werk.
3Koning Sedekia het vir Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur na koning Nebukadnesar van Babel, en Jeremia het die brief saam met hulle gestuur. 4Jeremia het geskryf: “Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê vir almal wat Hy laat wegvat het na Babel: 5Julle moet huise bou en tuinmaak en die vrugte en groente eet. 6Julle moet trou en kinders kry, en julle moet julle kinders laat trou sodat hulle kinders kan kry. Julle moet meer word, nie minder nie. 7En julle moet help dat dit goed gaan met die stad waarnatoe Ek julle laat wegvat het. Julle moet ook bid vir die mense van daardie stad, want as dit met hulle goed gaan, dan sal dit met julle ook goed gaan.
8“Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moenie luister na die profete en waarsêers wat daar by julle is nie, en julle moenie luister na die mense wat sê hulle weet wat julle drome beteken nie, 9want hulle bring vals boodskappe en hulle sê Ek het hulle gestuur. Maar Ek het hulle nie gestuur nie. 10Ja, die Here sê: Babel sal 70 jaar lank sterk wees. Daardie 70 jaar moet eers verbygaan. Daarna sal Ek weer goed wees vir julle en doen wat Ek belowe het. Ek sal julle dan laat terugkom na Jerusalem. 11Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle. 12Julle sal vra dat Ek julle moet help, julle sal aanhou bid tot My, en Ek sal julle hoor. 13Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart. 14Ek sal julle help om My te kry, en Ek sal dit weer goed laat gaan met julle. Ek sal julle bymekaarmaak uit al die volke en uit al die plekke waarnatoe Ek julle laat gaan het, en Ek sal julle terugbring hier na die plek van waar Ek julle laat wegvat het. Dit sê die Here, 15en Hy sê dit omdat julle sê: ‘Die Here het vir ons profete in Babel gegee.’
16“Die Here sê hierdie dinge oor die koning wat hier op die troon van Dawid sit en oor al die mense wat in hierdie stad woon, julle eie mense wat nie saam met julle na Babel moes gaan nie. 17Die Here wat oor alles regeer, sê: Ek sal oorlog na hulle toe stuur, en honger en pes, Ek sal hulle maak soos vrot vye wat te sleg is om te eet. 18Ek sal aanhou om hulle te laat sterf van oorlog en honger en pes. Die mense van al die lande op die aarde sal skrik wanneer hulle hierdie stad sien, hulle sal die stad se naam gebruik wanneer hulle ander mense wil vervloek. Hulle sal bang wees en fluit, hulle sal spot oor wat met die stad gebeur het. 19Dit sal gebeur omdat hulle nie geluister het na wat Ek gesê het nie. Ek het aangehou om my dienaars, die profete, na hulle toe te stuur, maar hulle het nie geluister nie. Dit sê die Here.
20“En julle in Babel, julle moet hoor wat sê die Here, julle almal wat Hy uit Jerusalem na Babel laat gaan het. 21Agab seun van Kolaja en Sedekia seun van Maäseja sê die Here het hulle gestuur, maar hulle het vals boodskappe gebring. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek sal hulle vir koning Nebukadnesar van Babel gee, en hy sal hulle doodmaak, en julle sal dit sien. 22Wanneer die mense van Juda wat nou in Babel is, iemand wil vervloek, dan sal hulle sê: ‘Ons bid dat die Here met jou sal doen wat Hy met Sedekia en Agab gedoen het. Nebukadnesar het hulle in die vuur gebraai.’ 23Dit sal gebeur omdat Sedekia en Agab by die Israeliete iets gedoen het wat Ek haat. Hulle het by ander mans se vroue geslaap en hulle het gesê Ek het hulle gestuur, maar hulle het vals boodskappe gebring. Ek het nie vir hulle gesê om dit te doen nie. Ek weet wat hulle gedoen het, en Ek is 'n getuie teen hulle. Dit sê die Here.”
Die brief van Semaja, en Jeremia se antwoord
24Die Here het vir Jeremia gesê: “Jy moet ook praat met Semaja van die stad Negelam. Jy moet vir hom sê: 25Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy het briewe gestuur na al die mense in Jerusalem en na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters. Niemand het gesê jy moet dit doen nie. Jy het vir Sefanja geskryf en gesê: 26‘Die Here het jou gekies om priester te wees in die plek van die priester Jojada. Jy moet kyk dat alles in die tempel goed gaan. Jy moet elke mal mens wat sê hy is 'n profeet, in die blok sit en jy moet hom vasmaak met 'n ysterband om sy nek. 27Jeremia kom van Anatot en hy is daar by julle 'n profeet. Hoekom het jy nie vir hom ook gestraf nie? 28Want hy het vir ons in Babel 'n brief geskryf en gesê ons sal lank hier bly en ons moet huise bou en in die huise woon, en ons moet tuinmaak en die vrugte en groente eet.’ ”
29Die priester Sefanja het die brief vir die profeet Jeremia gelees, 30en die Here het vir Jeremia gesê: 31“Jy moet vir al die mense in Babel skryf en sê: Die Here sê: Semaja wat van Negelam kom, het gesê hy is 'n profeet, maar Ek het hom nie gestuur nie. Hy het julle laat glo dat leuens julle kan help. 32Daarom sal Ek vir Semaja en sy nageslag straf. Nie een van sy kinders sal by hierdie volk bly woon nie. Ek sal dit weer goed laat gaan met my volk, maar hy sal dit nie sien nie.”
Dit het gebeur omdat Semaja die mense opstandig wou maak teen die Here.

Tans Gekies:

Jeremia 29: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid