YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 10

10
Die silwertrompette
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Maak nou twee trompette van geslae silwer, en gebruik dit om die vergadering bymekaar te roep en om die kamp te laat opbreek. 3Wanneer julle op albei blaas, moet die hele vergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die tent van ontmoeting. 4Maar as net op een geblaas word, moet net die leiers, die familiehoofde van Israel, by jou bymekaarkom. 5As julle die eerste keer hard blaas, moet die stamme wat aan die oostekant kampeer, vertrek. 6As julle 'n tweede keer hard blaas, moet die stamme aan die suidekant vertrek. As daar hard geblaas word, sal hulle weet om te vertrek. 7Om die vergadering bymekaar te roep, moet julle die trompette blaas, maar julle moet nie hard blaas nie. 8Aäron se seuns, die priesters, moet die trompette blaas. Dit moet vir julle en julle nageslag 'n vaste instelling wees. 9As julle in julle land wil gaan veg teen 'n vyand wat julle verdruk, moet julle hard op die trompette blaas. Ek, die Here julle God, sal dan op julle ag slaan en julle van julle vyande red. 10Ook op 'n dag van vreugde of op julle vasgestelde feestye of aan die begin van julle nuwemaansfeeste moet julle by julle brandoffers en maaltydoffers op die trompette blaas. Dit sal My, julle God, aan julle herinner. Ek is die Here julle God.”
Die Israeliete trek verder
11In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. 12Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit, totdat die wolk in die Paranwoestyn gaan staan het. 13Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses. 14Die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Juda het eerste vertrek. Nagson seun van Amminadab was hier in bevel. 15Netanel seun van Suar was in bevel van die afdeling van die stam Issaskar, 16en Eliab seun van Gelon was oor die afdeling van die stam Sebulon.
17Daarna is die tabernakel afgebreek, en het die Gersongroep en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek.
18Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Ruben. Elisur seun van Sedeür was in bevel van hierdie afdeling. 19Selumiël seun van Suri-Saddai was in bevel van die afdeling van die stam Simeon, 20en Eljasaf seun van Reüel was oor die afdeling van die stam Gad.
21Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die gewyde voorwerpe gedra. Die tabernakel moes opgerig wees teen die tyd dat hulle daar aankom.
22Ná hulle het die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Efraim vertrek. Elisama seun van Ammihud was in bevel van hierdie afdeling. 23Gamliël seun van Pedasur was in bevel van die afdeling van die stam Manasse, 24en Abidan seun van Gidoni oor die afdeling van die stam Benjamin.
25Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Dan wat die agterhoede van al die afdelings gevorm het. Agiëser seun van Ammi-Saddai was in bevel van hierdie afdeling. 26Pagiël seun van Okran was in bevel van die afdeling van die stam Aser, 27en Agira seun van Enan oor die afdeling van die stam Naftali.
28Dit was die volgorde waarin die afdelings van Israel op hulle reis vertrek het.
29Moses het vir Gobab seun van sy skoonpa Reüel, die Midianiet, gesê: “Ons trek na die land waarvan die Here gesê het: ‘Ek sal dit aan julle gee.’ Kom saam met ons. Ons sal jou goed behandel, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” 30Maar Gobab het vir Moses gesê: “Ek sal nie saam gaan nie, ek sal teruggaan na my eie land en familie toe.”
31Moses het toe by hom aangedring: “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan, en jy moet ons gids wees. 32As jy met ons saam kom, sal ons die goeie dinge wat die Here aan ons gee, met jou deel.”
33Die Israeliete het van die berg van die Here af weggetrek, drie dagreise ver. Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle 'n plek te vind waar hulle kon oorbly. 34Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek.
35Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê:
“Trek op, Here,
verstrooi u vyande!
Laat hulle wat vir U haat,
voor U wegvlug!”
36En wanneer die ark neergesit word, sê Moses:
“Kom terug, Here,
na die ontelbare menigtes van Israel toe.”

Currently Selected:

NUMERI 10: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy