YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 23

23
Josua neem afskeid
1Dit was al lank dat die Here na alle kante toe aan Israel rus gegee het van sy vyande, en Josua was al baie oud.
2Josua het die hele Israel geroep, die leiers, die hoofde, die regters, die ampsdraers, en vir hulle gesê: “Ek is al baie oud. 3Julle het gesien wat die Here julle God alles aan hierdie nasies gedoen het ter wille van julle. Dit is Hy, die Here julle God, wat die oorlog vir julle gevoer het. 4Ek het saam met die gebiede van al die nasies wat ek uitgeroei het, ook dié van die nasies wat nog oorbly, as eiendom aan julle stamme toegeken: van die Jordaan af tot by die Groot See in die weste. 5Die Here julle God sal hulle wegstoot voor julle en hulle voor julle uit verdrywe sodat julle hulle land in besit kan neem soos die Here julle God julle beloof het.
6“Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie, 7dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam 'n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie. 8Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle tot nou toe gedoen het. 9Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Niemand kon tot nou toe voor julle standhou nie. 10Een van julle jaag 'n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het. 11Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. 12As julle egter 'n ander pad loop en julle verbind aan die mense wat oor is van hierdie nasies wat nog tussen julle woon, en julle ondertrou met hulle en julle kom by hulle, en hulle by julle, 13weet dan seker dat die Here julle God hierdie nasies nie verder sal verdryf voor julle uit nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.
14“Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie. 15Maar net soos elke goeie belofte wat die Here julle God oor julle gemaak het, nagekom is, so sal Hy elke ramp oor julle bring wat Hy aangekondig het, totdat Hy julle uitgeroei het uit hierdie goeie land wat Hy julle gegee het. 16As julle die verbondsverpligtings wat die Here julle God julle opgelê het, nie hou nie en julle dien ander gode en buig voor hulle, sal die toorn van die Here teen julle ontvlam en sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat Hy julle gegee het.”

Currently Selected:

JOSUA 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy