YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 28

28
1Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie;
die regverdiges het die moed van 'n leeu.
2As daar opstand is in 'n land, is daar baie wat na mag gryp;
as daar iemand met wysheid en kennis is, bly hy lank aan die bewind.
3'n Man wat self arm is en arm mense uitbuit,
is soos 'n reën wat alles verspoel,
sodat daar niks te ete oorbly nie.
4Wie die wet van die Here verontagsaam, praat met lof van goddelose mense;
wie die wet onderhou, beveg hulle.
5Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie;
dié wat na die wil van die Here vra, het 'n goeie begrip van alles.
6Liewer arm wees en eerbaar lewe
as oneerlik lewe en ryk wees.
7'n Verstandige seun hou hom aan die wet van die Here;
as die seun maats maak met mense wat vir niks eerbied het nie,
bring hy skande oor sy vader.
8Wie groot rykdom versamel deur mense uit te buit,
versamel dit vir iemand wat hom oor arm mense sal ontferm.
9As iemand hom doof hou vir die wet van die Here,
sal die Here 'n afsku hê van so 'n man se gebed.
10Wie eerlike mense mislei sodat hulle die verkeerde pad loop,
sal self in die gat val wat hy gegrawe het;
die opregte sal voorspoed geniet.
11'n Ryk man kan dink hy het die wysheid in pag,
maar 'n arm mens met insig sien deur hom.
12As regverdiges rede tot blydskap het, praat almal met trots daaroor,
as goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg.
13Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie;
wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.
14Dit gaan goed met 'n mens wat altyd versigtig is;
maar iemand wat moedswillig is, sal ondergaan.
15'n Brullende leeu, 'n beer wat wil rondstorm,
so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk.
16As 'n heerser verstandigheid kortkom,
is daar baie verdrukking;
wie uitbuiting haat, lewe lank.
17'n Man wat moord op sy gewete het,
moet op die vlug bly tot sy dood toe.
Niemand moet hom help nie.
18Wie 'n eerbare lewe lei, sal hulp ontvang;
wie 'n oneerlike lewe lei, sal onverwags tot 'n val kom.
19Wie sy grond bewerk, het volop om te eet;
wie hom besig hou met nuttelose dinge, word brandarm.
20'n Betroubare man is baie voorspoedig;
een wat gou ryk wil word, sal sy straf kry.
21Dit is nie reg dat mense partydig is en sondig nie,
selfs nie ter wille van 'n stukkie kos nie.
22'n Inhalige mens wil gou ryk word;
hy besef nie dat daar vir hom gebrek wag nie.
23Wie iemand teregwys, kry eerder agterna dank
as wat 'n vleier dit kry.
24Wie sy ouers besteel en sê:
“Ek doen niks verkeerds nie,”
is niks anders as 'n rower nie.
25'n Gierige mens veroorsaak rusie;
een wat op die Here vertrou, is voorspoedig.
26Wie op homself vertrou, is 'n dwaas;
wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.
27Wie vir 'n arm mens iets oor het, sal self niks kortkom nie,
maar wie anderpad kyk, sal baie verwensings hoor.
28As goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg,
as die goddeloses ondergaan, kry die regverdiges die mag.

Currently Selected:

SPREUKE 28: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy