YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 1

1
'n Woord aan Teofilus
1Hooggeagte Teofilus!
Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. 2Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. 3Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. 4So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.
Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig
5In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. 6Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. 7Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.
8Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. 10Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. 11Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. 12Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, 15want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. 16Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. 17En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.”
18Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”
19Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. 20Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”
21Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. 22Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. 23Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.
24Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: 25“Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”
Die geboorte van Jesus word aangekondig
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”
29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”
35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”
38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Toe het die engel van haar af weggegaan.
Maria besoek Elisabet
39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug van jou moederskoot!
43Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my van vreugde beweeg.
45Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”
Die loflied van Maria
46En Maria het gesê:
“Ek besing die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes van ontferming
55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.
Die geboorte van Johannes die Doper
57Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. 58Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.
59Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. 60Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”
61Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”
62Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. 63Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. 64Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.
65Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. 66Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”
Dit was duidelik dat die Here by hom was.
Die loflied van Sagaria
67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy heilige profete:
71om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72om Hom te ontferm oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73Met 'n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76“En jy, kindjie,
'n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis van hulle sondes,
78danksy die genadige ontferming van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79om lig te bring aan dié wat in duisternis
en in die skaduwee van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Currently Selected:

LUKAS 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy