YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 8:4-23

RIGTERS 8:4-23 AFR83

Daarna het Gideon by die Jordaan gekom en dit oorgesteek met die drie honderd man by hom. Hulle was moeg, maar hulle het aangehou om die vyand te agtervolg. Toe sê Gideon vir die mense van Sukkot: “Gee tog brood vir die manne wat by my is. Hulle is moeg en ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.” Maar die leiers van Sukkot het vir hom gevra: “Het jy al vir Sebag en Salmunna gevang dat ons vir jou en jou leër moet brood gee?” Gideon het vir hulle gesê: “Wanneer die Here vir Sebag en Salmunna in my mag oorgegee het, sal ek julle kom stukkend skeur met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn.” Van daar af is hy verder na Pniël toe en hy het ook vir hulle kos gevra, maar die mense van Pniël het hom dieselfde antwoord gegee as dié van Sukkot. Toe sê hy vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, sal ek die toring in julle stad platslaan.” Sebag en Salmunna was toe in Karkor. By hulle was 'n leër van ongeveer vyftien duisend man. Dit was al wat oorgebly het van die leër van die mense uit die ooste; honderd en twintig duisend van hulle beste soldate het gesneuwel. Gideon het toe die Nomadepad ooste toe gevat, na Nobag en Jogboha toe. Die leër van die Midianiete was houtgerus en Gideon het hulle aangeval. Sebag en Salmunna het gevlug, maar Gideon het hulle agternagesit en die twee Midianitiese konings gevang. Hy het die hele leër met skrik vervul. Gideon seun van Joas is toe van die slagveld af terug oor Gerespas. Hy het 'n jong man uit Sukkot gevang en hom ondervra. Die jong man het toe vir hom die name van die sewe en sewentig amptenare en leiers van Sukkot opgeskryf. Gideon is toe na die mense van Sukkot toe en hy het vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna oor wie julle my gespot het toe julle gesê het: Is Sebag en Salmunna al in jou mag dat ons vir jou moeë manne kos moet gee?” Toe het hy die leiers van die stad gevat en hulle 'n les geleer met doringstruike, met haakdorings uit die woestyn. Hy het ook die toring van Pniël platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak. Toe het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Watter soort mense is deur julle vermoor op Tabor?” en hulle antwoord: “Hulle was almal soos u, elkeen het soos 'n koningskind gelyk.” Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.” Toe beveel Gideon sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood!” Maar die seun het nie 'n vinger verroer nie, want hy was 'n blote kind en hy was bang. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Kom jy, bring jy ons om die lewe. 'n Man se krag lê in homself.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet oor ons regeer: jy, jou seun en sy nageslag. Jy het ons gered uit die mag van Midian.” Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.”

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy