YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 2

2
1Die Engel van die Here het van Gilgal af na Bokim toe gegaan. Hy het gesê: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal my verbond met julle nooit verbreek nie, 2maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Maar julle het My nie gehoorsaam nie. Waarom het julle dit gedoen? 3Daarom sê Ek vir julle: Ek sal nie hierdie nasies van julle af wegdryf nie. Hulle sal vir julle 'n strik word, en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.”
4Toe die Engel van die Here dit alles vir die Israeliete gesê het, het die hele volk hard gehuil. 5Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Hulle het daar 'n offer aan die Here gebring.
6Nadat Josua die volk laat gaan het, het hulle die land gaan verower en daarna het elkeen na sy grond toe gegaan. 7So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers geleef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here gedoen het om vir Israel te help. 8Josua, seun van Nun en dienaar van die Here, het honderd en tien jaar oud geword. Hy het gesterf, 9en hy is begrawe op sy grond in Timnat-Geres op die Efraimsberge noord van Gaäsberg. 10Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.
Die Here stuur leiers om sy volk te lei
11Die Israeliete het toe gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien. 12Hulle het opgehou om die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte laat trek het, te dien. Hulle het ander gode begin dien, van die gode van die nasies in die omgewing. Die Israeliete het hierdie gode aanbid en die Here getart. 13Hulle het opgehou om die Here te dien en hulle het die Baäls en die Astartes gedien.
14Toe het die Here kwaad geword vir Israel en hulle oorgegee in die mag van roofbendes deur wie Israel beroof is. Die Here het hulle ook uitgelewer aan die vyande in die omgewing. Die Israeliete kon nie meer teen hulle vyande standhou nie. 15In watter rigting die Israeliete ook al gaan veg het, die Here het hulle teëgestaan. Dit is wat Hy voorheen vir hulle met 'n eed bevestig het. Die Israeliete het baie swaar gekry.
16Maar die Here het leiers na vore laat kom en dié het die volk gered uit die mag van die mense deur wie hulle beroof is. 17Die volk het ook nie na hulle leiers geluister nie. Die volk was ontrou aan die Here en het ander gode aanbid en baie gou die pad van hulle voorvaders verlaat en ongehoorsaam geword aan die gebooie van die Here.
18Wanneer die Here vir hulle leiers na vore laat kom het, was Hy by die leiers en so het Hy die volk gered uit die mag van hulle vyande. So was dit so lank as die leier geleef het, want die Here het medelye gehad met sy volk wanneer hulle om hulp geroep het oor hulle vyande deur wie hulle verdruk is. 19Maar na die leier se dood het hulle nog erger as hulle voorvaders gehandel en ander gode aangehang en gedien en aanbid. Hulle het nie hulle verkeerde dade en hulle hardkoppigheid laat vaar nie.
20Dan het die Here kwaad geword vir die Israeliete en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie steur aan die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het en My nie gehoorsaam nie, 21sal Ek uit die nasies wat nie deur Josua voor sy dood oorwin is nie, nie verder 'n enkele mens verdryf om vir die Israeliete plek te maak nie. 22Ek wil hulle met hierdie nasies op die proef stel om te sien of die Israeliete so gehoorsaam sal wees aan my wil soos hulle voorvaders en daarvolgens sal lewe of nie.”
23Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik verslaan en in Josua se mag oorgegee nie.

Currently Selected:

RIGTERS 2: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy