YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 57

57
Julle is 'n broeisel leuenaars
1Die regverdige kom om,
en daar is niemand
wat dit ter harte neem nie;
dié wat aan die verbond getrou is,
sterf sonder dat iemand begryp
dat dit deur die boosheid in die wêreld is
dat die regverdiges sterf.
2Dié wat die reguit pad loop,
kom waar daar vrede is,
hulle rus in die graf.
3Maar kom julle nader hierheen,
kinders van 'n towerheks,
julle wat gebore is uit owerspel en hoerery!
4Met wie wil julle spot?
Teen wie wil julle grootpraat,
vir wie wil julle tong uitsteek?
Julle is niks anders as 'n klomp rebelle nie,
'n broeisel leuenaars!
5Julle dien die afgode
met julle wellus onder die groot bome,
onder elke groen boom.
Julle offer julle kinders in die laagtes
en onder die oorhangende rotse.
6Julle verkies die afgodsbeelde in die laagte,
daar soek julle julle deel.
Vir hulle bring julle drankoffers
en offer julle graanoffers.
Moet Ek My hiervoor oor julle ontferm?
7Op die hoë berge het jy 'n plek ingerig vir jou onsedelikheid
en daarheen opgeklim om offers te bring.
8Agter jou deure en aan jou kosyne
het jy beeldjies opgehang.
In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek,
op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak.
Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het.
Jy het hulle naaktheid geniet.
9Jy het na Molek toe gegaan met olie
en met baie wierook;
jy het jou boodskappers na ver plekke toe gestuur,
selfs tot by die doderyk!
10Jou soekery het jou moeg gemaak;
tog het jy nie gesê: “Dit is sinloos!” nie.
Jou wellus het jou aanhou oorweldig,
daarom het jy nie opgehou nie.
11Vir wie was jy so bang en bevrees
dat jy vals geword het?
Jy dink nie meer aan My nie,
jy steur jou nie meer aan My nie.
Ek het lank geswyg
toe jy My nie meer gedien het nie,
12maar nou sal Ek jou skynheiligheid aan die kaak stel,
alles wat jy gedoen het,
en jou gode sal jou nie kan help nie.
13As jy om hulp roep,
moet jou spul gode jou kom red,
maar 'n wind waai hulle almal weg,
'n yl luggie vat hulle weg.
Maar wie by My skuil, sal die land besit
en my heilige berg as eiendom ontvang.
Ek sal hulle genees
14Die Here het gesê:
Vul die pad op, vul dit op, maak dit gereed!
Verwyder die struikelblokke uit die pad van my volk.
15So sê Hy wat hoog en verhewe is,
Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is:
Ek woon in 'n hoë en heilige plek
en Ek is by hom wat verdruk en nederig is.
Ek gee nuwe krag aan die nederiges,
Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.
16Ek reken nie vir altyd sondes toe nie,
Ek bly nie vir altyd toornig nie,
want anders sou dit die einde beteken van die mens,
die mens aan wie Ek die asem gegee het.
17Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug,
Ek het hom geslaan en hom verlaat
omdat Ek toornig was.
Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.
18Ek het gesien wat met hom gebeur,
en Ek sal hom genees.
Dié van hom wat treur,
sal Ek lei en terugbring;
Ek sal vir hulle uitkoms gee.
19Ek stel hulle in staat om My weer te loof.
Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is,
sê die Here.
Ek sal hulle genees.
20Maar die goddeloses is soos die onstuimige see
wat nie tot rus kan kom nie
en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot.
21Vir die goddeloses is daar geen vrede nie,
sê my God.

Currently Selected:

JESAJA 57: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy