YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 18

18
Jetro besoek vir Moses
1Jetro, priester van Midian en skoonpa van Moses, het gehoor wat die Here God alles vir sy volk Israel en vir Moses gedoen het toe die Here die Israeliete uit Egipte bevry het. 2Toe Moses sy vrou Sippora destyds teruggestuur het, het sy skoonpa Jetro haar 3en haar twee seuns in sy huis geneem. Die naam van die een seun was Gersom , “want,” het Moses gesê, “ek woon as vreemdeling in 'n vreemde land.” 4Die naam van die ander was Eliëser , “want,” het Moses gesê, “die God van my voorvaders het my gehelp: Hy het my gered toe die farao my wou doodmaak.”
5Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en sy vrou na hom toe gegaan waar hy in die woestyn by die berg van God kamp opgeslaan het. 6Jetro het toe vir Moses laat weet: “Ek is jou skoonpa Jetro. Ek kom na jou toe met jou vrou en jou twee seuns.”
7Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet en voor hom gebuig en hom met 'n soen gegroet. Nadat hulle vir mekaar gevra het hoe dit gaan, het hulle in Moses se tent ingegaan. 8Daar het Moses vir sy skoonpa alles vertel wat die Here aan die farao en aan Egipte gedoen het ter wille van Israel, en ook van al die ontberings wat die Israeliete op pad gehad het en hoe die Here hulle bevry het. 9Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het.
10-11Toe het Jetro gesê: “Aan die Here kom die lof toe! Dit is Hy wat julle bevry het uit die mag van Egipte en die farao. Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry.”
12Jetro, Moses se skoonpa, het brandoffers en ander diereoffers vir God gebring, en daarna het Aäron en al die Israelitiese leiers gekom om saam met Moses se skoonpa aan die offermaaltyd deel te neem.
13Toe Moses die volgende dag gaan sit om hofsake te verhoor, het daar van die oggend af tot die aand toe mense vir hom gestaan en wag. 14Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?”
15Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. 16As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.”
17Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. 18Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie. 19Luister nou na my raad en mag God jou bystaan! Jy moet die volk se verteenwoordiger by God wees en alle sake voor Hom bring. 20Druk die volk die voorskrifte en wette op die hart, leer hulle die pad wat hulle moet loop en wat hulle moet doen. 21Verder moet jy onder die volk bekwame manne uitsoek, dienaars van die Here, mense wat die waarheid liefhet en nie hulle eie voordeel soek nie. Dan moet jy hulle oor die volk aanstel as leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 22Hulle moet deurentyd vir die volk hofsittings hou. Die belangrike sake moet na jóú verwys word, en die geringes moet húlle oplos. Dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra. 23As God jou beveel om dit so te doen, sal jy met die werk kan aanhou, en al hierdie mense sal dan tevrede huis toe gaan.”
24Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het. 25Moses het bekwame manne uit Israel gekies en hulle aangestel as hoofde oor die volk: leiers oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. 26Hulle het deurentyd hofsittings gehou. Die belangrike sake is na Moses verwys, en die geringes is deur die leiers verhoor.
27Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa, en sy skoonpa is terug na sy eie land toe.

Currently Selected:

EKSODUS 18: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy