YouVersion Logo
Search Icon

Daniël 5

5
Koning Belsasar hou ’n feesete
1’n Klompie jare later het koning Belsasar een aand ’n groot feesete gehou vir ’n groot groep van sy hooggeplaastes, edelmanne en edelvroue. Tydens hierdie ete het hy heerlik saam met hulle wyn gedrink. 2Later, toe hy al heeltemal te veel gedrink het, het hy beveel dat hulle van die goue en silwerbekers wat sy pa, Nebukadnesar, uit die tempel in Jerusalem gevat het, moet gaan haal sodat hy en sy hooggeplaaste gaste en sy vroue en byvroue daaruit kon drink. 3Hulle het die goue en silwerbekers gaan haal en die koning en al sy gaste het daaruit gedrink. 4Hulle het ook heildronke gedrink op al hulle afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip.
5Skielik het daar ’n mensehand verskyn wat op die gepleisterde muur van die paleis begin skryf het, op die plek waar die lamplig die helderste geskyn het. Die koning self het ook die hand sien skryf. 6Hy het doodsbleek geword van skrik. Sy knieë het letterlik begin bewe van vrees. 7Hy was so bang dat hy op sy mense geskree het om dadelik die towenaars, fortuinvertellers en sterrevoorspellers te gaan roep. Toe hulle inkom, sê hy vir hulle: “Vir die een wat kan lees wat hier geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, wag daar ’n beloning. Ek sal vir hom ’n koninklike kleed gee om aan te trek en ’n goue ketting om om sy nek te dra. Hy sal saam met my regeer as die persoon met die derde meeste gesag in die koninkryk.”
8Al sy raadgewers het hulle bes probeer, maar nie een van hulle kon die skrif lees of die boodskap daarvan uitlê nie. 9Koning Belsasar was angsbevange. Sy hooggeplaaste gaste was so uit die veld geslaan dat hulle nie geweet het wat om te doen nie.
10Die koning se ma het die lawaai gehoor wat die koning en sy gaste gemaak het. Sy stap toe die eetsaal binne en sê: “Lank lewe die koning! U Majesteit, moet tog nie so ontsteld en bang wees oor hierdie saak nie. 11Daar is ’n man hier in die ryk in wie die Gees van die heilige God is. Toe jou pa nog regeer het, het almal geweet dat hierdie man sy gesonde verstand kon gebruik en dat hy baie slim was. Dit was amper of hy self ’n god was. Jou pa, koning Nebukadnesar, het hom as hoof oor al die towenaars, fortuinvertellers, sterrevoorspellers en besweerders aangestel. 12Hy het ’n flink brein met ’n buitengewone vermoë om drome te kan uitlê, probleme op te los en moeilike sake uit te sorteer. Laat roep vir Daniël, vir wie jou pa die naam Beltsasar gegee het. Hy sal vir jou kan sê wat die skrif teen die muur beteken.”
Daniël verduidelik die skrif teen die muur
13Daniël is dadelik laat haal. Die koning vra toe vir hom: “Is jy die Daniël wat deur my vader, Nebukadnesar, saam met die ander ballinge uit Juda hiernatoe gebring is? 14Ek het gehoor hulle sê dat die Gees van die heilige God in jou is en dat jy baie slim is en weet hoe om probleme op die regte manier op te los. 15Ek het my raadgewers en voorspellers laat kom om vir my te sê wat daar op die muur geskryf staan, en watter betekenis dit vir my het, maar hulle kon dit nie doen nie. 16As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.”
17Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken. 18Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee. 19Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder. 20Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor. 21Die menslike samelewing het hom verwerp en hy het soos ’n dier geword. Hy het saam met die wildedonkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Hy het in die oop veld geslaap sonder enige beskerming teen die dou, totdat hy besef het dat die allerhoogste God in beheer is van al die koninkryke van die wêreld en dat Hy besluit wie regeer.
22“Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink. 23Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie! 24Daarom het Hy die hand gestuur om hierdie woorde te kom skryf. 25Daar staan geskryf: Getel, getel, geweeg, verdeel. 26Dit is wat dit beteken: Getel beteken dat God u regeringstyd se dae getel het en nou ’n einde daaraan gaan maak. 27Geweeg sê dat u op God se skaal geweeg is en te lig bevind is omdat u nie doen wat Hy sê nie. 28Verdeel beteken dat u koninkryk tussen die Mediërs en die Perse verdeel gaan word.”
29Op Belsasar se bevel het hulle vir Daniël ’n koninklike kleed omgehang en ook ’n goue ketting om sy nek gesit. Hy het ook laat aankondig dat Daniël nou derde in bevel in die koninkryk was. 30Daardie selfde nag nog is Belsasar, die koning van die Babiloniërs, vermoor.

Currently Selected:

Daniël 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy