YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 13

13
1'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader,
'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie.
2'n Mens kan voorspoedig word
deur altyd die regte woorde te gebruik;
onbetroubare mense is net uit op geweld.
3Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe;
wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet.
4Die luiaard se honger word nie gestil nie;
hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.
5Die regverdige haat leuens;
die goddelose maak hom gehaat en veragtelik.
6Die opregte bly behoue
deur sy gehoorsaamheid aan die Here;
ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan.
7Party mense hou hulle ryk maar het niks nie;
party doen hulle arm voor maar besit baie.
8Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop;
'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie.
9Die lewe van die regverdiges is vol vreugde;
die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
10Selfverheffing lei altyd tot twis;
dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.
11Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik;
wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk.
12'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig;
'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.
13Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie,
sal die gevolge dra;
wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.
14Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe;
dit laat jou die strikke van die dood vermy.
15Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid;
die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging.
16Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen;
wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander.
17'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid;
'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg.
18Armoede en vernedering wag vir iemand
wat hom nie wil laat leer nie,
wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer.
19'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde.
Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy.
20Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid;
wie hom met dwase ophou, word self sleg.
21Teenspoed volg die sondaars op hulle pad;
die regverdige word met voorspoed vergoed.
22'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders;
die besittings van die sondaar
kom in die hande van die regverdige.
23Grond wat die eerste keer geploeg is,
lewer genoeg kos vir die armes,
maar waar daar nie wet en orde is nie,
word die kos van hulle af weggevat.
24Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie;
as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.
25Die regverdige het meer as genoeg om te eet;
goddelose mense bly honger.

Currently Selected:

SPREUKE 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy