YouVersion Logo
Search Icon

NEHEMIA 8

8
1Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.
2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand. 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.
5Esra die skrifgeleerde het op 'n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.
6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan. 7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”
Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.
10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.
11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”
12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is 'n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”
13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot feesgevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.
Die huttefees
14Die volgende dag het die familiehoofde van die hele gemeente en die priesters en Leviete by Esra die skrifgeleerde bymekaargekom om die inhoud van die wet te bestudeer. 15Hulle vind toe in die wet geskrywe dat die Here deur Moses opdrag gegee het dat die Israeliete in hutte moet woon vir die duur van die fees in die sewende maand, 16en dat hulle die oproep moet maak en dit in al die stede en in Jerusalem moet laat afkondig: “Gaan na die berge toe en bring olyftakke, olientakke, mirtetakke, palmtakke, takke met digte blare om hutte te maak soos dit voorgeskryf is.”
17Die mense het die takke gaan haal, en elkeen het vir hom 'n hut gebou, op die dak van sy huis of in sy binneplaas of in die voorhof van die tempel of op die plein by die Waterpoort of op die plein by die Efraimspoort.
18Die hele gemeente, die mense wat uit die ballingskap teruggekom het, het hutte gebou en daarin gaan woon. So het die Israeliete dit nie gedoen van die tyd van Josua seun van Nun af tot dié dag toe nie. Daar was baie groot vreugde. 19Van die eerste tot die laaste dag van die fees het hulle elke dag uit die wetboek van God voorgelees. Hulle het sewe dae lank feesgevier, en op die agste dag was daar die gebruiklike samekoms.

Currently Selected:

NEHEMIA 8: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy