YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 17

17
Hosea koning van Israel
1In die twaalfde regeringsjaar van koning Agas van Juda het Hosea seun van Ela koning geword en hy het nege jaar in Samaria oor Israel geregeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar hy was nie so erg soos die konings van Israel voor hom nie. 3Toe koning Salmaneser van Assirië teen hom opgeruk het, het hy hom aan die koning van Assirië onderwerp en aan hom belasting betaal. 4Die koning van Assirië het uitgevind dat Hosea teen hom saamsweer deurdat hy gesante na koning So van Egipte gestuur het en nie die jaarlikse belasting aan die koning van Assirië betaal het nie. Daarom het hy vir Hosea laat vang en hom in die tronk opgesluit, 5die hele land binnegeval en opgeruk na Samaria toe wat hy drie jaar lank beleër het. 6In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en het hy die Israeliete na Assirië toe weggevoer. Sommige het hy in die stad Galag gevestig, ander aan die Gaborrivier in Gosan, en in die stede van Medië.
Die rede vir die ballingskap
7Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, onder die mag uit van die farao, koning van Egipte. Maar hulle het ander gode vereer 8en geleef volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak, gebruike wat deur die konings van Israel nagevolg is. 9Die Israeliete het die Here hulle God dinge toegedig wat nie waar is nie en toe vir hulle hoogtes gebou oral waar hulle gewoon het, van plekke af waar net 'n wagtoring was, tot in die vestingstede. 10Hulle het klippilare en gewyde pale opgerig op elke hoë rant en onder elke groen boom. 11Op elke hoogte het hulle wierookoffers gebring net soos die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Met die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het hulle die Here uitgetart. 12Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het.
13Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”
14Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie. 15Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie. 16Al die gebooie van die Here hulle God het hulle links laat lê: hulle het twee kalwerbeelde laat giet, 'n Asjerabeeld gemaak, voor elke hemelliggaam gebuig en vir Baäl gedien. 17Die volk het hulle seuns en dogters as offers laat verbrand en hulleself besig gehou met waarsêery en toekomsvoorspelling. Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart. 18Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. Net die stam Juda het oorgebly. 19Maar ook Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie: hulle het die praktyke van Israel nagevolg. 20Daarom het die Here die hele nageslag van die aartsvader Israel verwerp. Die Here het hulle verdruk deur hulle oor te gee in die mag van plunderaars totdat Hy hulle finaal verwerp het. 21Hy het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, sodat hulle Jerobeam seun van Nebat koning gemaak het. Jerobeam het Israel van die Here losgemaak en hulle tot vreeslike sondes verlei. 22Die Israeliete het volhard in al die sondes wat Jerobeam gedoen het; hulle het dit nie laat vaar nie. 23Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het. Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.
Immigrante in Israel
24Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring, en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete. Hierdie mense het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon. 25Aan die begin van hulle verblyf het hulle die Here nie vereer nie, daarom het die Here leeus op hulle losgelaat wat onder hulle gemaai het. 26Toe is die koning van Assirië meegedeel: “Die nasies wat deur u weggevoer en in die stede van Samaria gevestig is, weet nie hoe hulle die God van die land moet vereer nie. Nou het Hy leeus op hulle losgelaat wat hulle doodgemaak het. Dit het gebeur net omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie.”
27Toe het die koning van Assirië opdrag gegee dat hulle een van die priesters wat uit Israel weggevoer is, soontoe moet bring. Hy het soontoe gegaan en daar gaan woon om hulle die regte verering van die God van die land te leer. 28So het een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, teruggekom en in Bet-El gaan bly, en hy het hulle geleer hoe hulle die Here moet vereer. 29Tog het elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is, elke nasie in die stede waar hy gewoon het. 30Die mense van Babel het vir Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta vir Nergal, die mense van Hamat vir Asima, 31die Awwiete vir Nibgas en Tartak. Die Sefarwajiete het hulle seuns verbrand ter ere van Adrammelek en Anammelek, die gode van Sefarwajim. 32Terselfdertyd het hulle die Here vereer en uit hulle eie geledere priesters vir die hoogtes aangewys om vir hulle diens te doen in die heiligdomme op die hoogtes. 33Hulle het die Here vereer en ook hulle eie gode gedien volgens die gebruik van die heidennasies waaruit hulle weggevoer is. 34Tot vandag toe handhaaf hulle hulle vroeëre gebruike: hulle handel nie presies volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat die Here opgedra het aan die kinders van Jakob nie, dié Jakob aan wie Hy die naam Israel gegee het. 35Dit was met hulle dat die Here 'n verbond gesluit het, vir wie Hy beveel het: “Moenie ander gode vereer nie, moenie voor hulle buig nie, moet hulle nie dien of offers vir hulle bring nie. 36Nee, net die Here wat julle uit Egipte laat trek het deur sy groot mag en krag, moet julle vereer; voor Hom moet julle buig en vir Hom offers bring. 37Julle moet altyd lewe volgens die voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het. Moenie ander gode dien nie. 38Die verbond wat Hy met julle gesluit het, moet julle nie verontagsaam nie. Moenie ander gode dien nie. 39Julle moet net die Here julle God dien. Hy sal julle red uit die mag van al julle vyande.”
40Maar hulle was ongehoorsaam: hulle het hulle vroeëre gebruike gehandhaaf. 41Hierdie nasies het nie net die Here vereer nie, maar ook hulle eie afgodsbeelde gedien, en tot vandag toe nog volg ook hulle kinders en kleinkinders hulle voorbeeld.

Currently Selected:

2 KONINGS 17: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy