YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 13

13
Joahas koning van Israel
1In die drie en twintigste regeringsjaar van koning Joas van Juda, seun van Ahasia, het Joahas seun van Jehu in Samaria koning oor Israel geword. Hy het sewentien jaar geregeer, 2en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het dieselfde sonde gedoen as wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het. Daarvan het hy nie afgewyk nie. 3Daarom het die Here toornig geword op Israel en hulle gedurende die regering van Joahas oorgegee in die mag van koning Gasael van Aram en in die mag van Ben-Hadad seun van Gasael. 4Joahas het die Here om genade gesmeek. Die Here het sy gebed verhoor, want die Here het opgemerk hoe wreed die koning van Aram hulle onderdruk het. 5Die Here het aan Israel 'n redder gegee sodat hulle bevry kon word uit die mag van Aram, en sodat die Israeliete weer soos vroeër in hulle eie huise kon woon. 6Ten spyte hiervan het hulle nie afgesien van die sonde wat die koningshuis van Jerobeam vir Israel laat doen het nie. Hulle het daarmee volhard. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan. 7Koning Gasael van Aram het die leër van Joahas vernietig en soos stof vertrap. Gasael het vir Joahas geen manskappe laat oorbly nie, net vyftig ruiters, tien strydwaens en tien duisend voetsoldate.
8Die ander verhale oor Joahas en alles wat hy gedoen het, en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 9Joahas is oorlede, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Joas het hom as koning opgevolg.
Joas word koning van Israel
10In die sewe en dertigste regeringsjaar van koning Joas van Juda het Joas seun van Joahas in Samaria oor Israel koning geword. Hy het sestien jaar geregeer 11en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie; hy het daarmee volhard. 12Die ander verhale oor Joas en alles wat hy gedoen het, die dapperheid waarmee hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. 13Toe Joas oorlede is, het Jerobeam op die troon gekom. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.
Die dood van Elisa
14Elisa het ernstig siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom gaan besoek en het oor hom gehuil en gesê: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
15Elisa sê toe vir hom: “Vat jou pyl en boog.”
Die koning van Israel het dit gedoen, en toe 16sê Elisa vir hom: “Sit jou hand op die boog.”
Die koning het sy hand op die boog gesit. Elisa het toe sy eie hande op die hande van die koning gesit 17en gesê: “Maak die venster aan die oostekant oop.”
Die koning het dit oopgemaak, en Elisa het beveel: “Skiet!”
Toe skiet die koning, en Elisa sê: “'n Pyl van die Here se oorwinning, 'n pyl van oorwinning oor Aram! Jy sal Aram verpletterend verslaan in Afek.”
18Verder sê Elisa: “Vat nou die pyle.”
Die koning het hulle gevat, en Elisa sê vir hom: “Slaan teen die grond.” Die koning het drie maal geslaan en opgehou.
19Die man van God het baie kwaad geword vir die koning en gesê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het, maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.”
20Toe het Elisa gesterf, en hulle het hom begrawe.
Moabitiese bendes het elke jaar die land binnegeval. 21Toe mense op 'n keer besig was om iemand te begrawe, sien hulle skielik so 'n bende. Hulle het die man se lyk in Elisa se graf gegooi. Toe die lyk aan Elisa se bene raak, het die man lewend geword en regop gaan staan.
Joas verslaan die Arameërs
22Koning Gasael van Aram het Israel verdruk gedurende al die regeringsjare van Joahas. 23Die Here was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm. Hy het Hom na hulle gewend ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie; Hy het hulle tot nou toe nie verwerp nie.
24Koning Gasael van Aram is oorlede. Sy seun Ben-Hadad het hom as koning opgevolg. 25Joas seun van Joahas het van Ben-Hadad seun van Gasael die stede teruggewen wat Ben-Hadad in die oorlog afgevat het van Joas se pa. Drie maal het Joas vir Ben-Hadad verslaan en Israel se stede herower.

Currently Selected:

2 KONINGS 13: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy