YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 28

28
Luister na die Here
1’n Ongelowige se slegte gewete laat hom onrustig voel. Hy is soos iemand wat weghardloop al jaag niemand hom nie. ’n Gelowige ervaar kalmte. Hy is soos ’n leeu in sy veilige skuilplek.
2’n Land waar korrupsie en misdaad hoogty vier, kry die een slegte leier na die ander. Iemand met kennis van die lewe en praktiese vaardighede kan ’n land van die afgrond red.
3’n Arm mens wat die armes onderdruk, is soos ’n haelstorm wat alles verwoes. Hongersnood en baie ellendes is dan die armes se voorland.
4Iemand wat nie meer na die woord van die Here luister nie, is soos ’n ongelowige. Iemand wat die woord ernstig opneem, kom nie met slegte mense klaar nie.
5Slegte mense het geen begrip van wat reg of verkeerd is nie. Mense wat die Here ken, weet wat om te doen en wat om nie te doen nie.
6’n Arm mens wat reg leef, is beter daaraan toe as ’n ryke wie se lewe krom en skeef is.
7’n Seun wat die woord liefhet, is slim. Hy maak sy pa baie bly. Wie met vrate en dronklappe bevriend is, is vir sy ouers ’n verleentheid.
8Wie die kuns van geldmaak verstaan, moet hom ook oor die armes ontferm.
9Wie nie meer na die woord van die Here luister nie se gebede beteken niks nie.
10Wie verkeerde dinge teen gelowiges beplan, sal self in die put van ellende val. Wie die Here liefhet, sal die goeie van die lewe ervaar.
11’n Ryk mens is slim in sy eie oë. ’n Arme wat die lewe ken, kyk dwarsdeur hom.
12As gelowiges regeer, is daar blydskap. Almal word dan bevoordeel. As slegte mense die mag oorneem, is almal bang. Mense onttrek hulle of emigreer.
13Wie sy oortredings toesmeer, sal nooit gelukkig wees nie. Wie sy sonde bely en nooit weer slegte dinge wil doen nie, sal die Here se liefde ervaar.
14Wie die Here altyd liefhet, ervaar blydskap. Wie sy hart hard maak, sal nooit gelukkig wees nie.
15Soos ’n brullende leeu en ’n honger beer, so is ’n slegte leier wat hulpeloses en armes se regte vertrap. Hy maak hulle lewe net nog moeiliker.
16’n Regeerder sonder insig in die regte manier van lewe, sal sy mag misbruik. Wie wanpraktyke haat, sal lank regeer.
17’n Moordenaar wat onskuldige mense doodmaak, verdien geen genade nie. Tot sy dood toe sal hy van God verlate wees. Niemand moet hom probeer help nie.
18Iemand wat reg leef, is veilig in die hand van die Here. Wie verkeerde dinge doen se lewe is ’n nagmerrie.
19Wie hard werk, het genoeg om te eet. Wie rondstaan en niks doen nie, sal arm word.
20’n Betroubare mens ervaar baie seëninge. Wie vinnig ryk wil word, verbrand sy vingers.
21Om kant te kies in enige saak is verkeerd. Al het jy dit hoe nodig, omkoopgeskenke is ’n gruwel.
22’n Suinige en jaloerse mens sal alles doen om ryk te word. Op die ou einde het hy nog steeds niks nie.
23Wie die moed het om mense mooi op hulle foute te wys word meer gerespekteer as iemand wat hulle net heeltyd vlei.
24Wie sy ouers uitbuit en nie daaroor skuldig voel nie, is soos ’n dief wat vir niemand omgee nie.
25Iemand wat net aan homself dink en net homself verryk, maak mense woedend. Hulle wil niks met hom te doen hê nie. Wie op die Here vertrou, is ryk en voorspoedig.
26Iemand wat net op sy eie insigte vertrou, is dom. Wie die spreuke ernstig opneem, spaar homself baie ellende.
27Wie vir die armes omgee, sal nooit swaarkry nie. Wie blind is vir hulle ellende, sal self baie swaarkry.
28Wanneer ’n diktator aan bewind kom, maak goeie burgers hulle uit die voete. Wanneer ’n bose regering van die toneel verdwyn, kan gelowiges weer die mag oorneem.

Currently Selected:

Spreuke 28: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy