Leesplan inligting

Die Grootste GeskenkVoorbeeld

Die Grootste Geskenk

DAG 1 VAN 43




Welkom by ons studie, Die Grootste Geskenk


Elke jaar met Kersfees gaan jy op ‘n soektog na die perfekte geskenke vir jou geliefdes en hoop dat jou vrygewigheid hulle geagd, gekend, en geliefd sal laat voel en as bewys dien dat jy vir hulle omgee. Elke jaar hoop jy dalk om ook die perfekte geskenk te ontvang. Maar wat as ons alreeds die volmaakte geskenk ontvang het? Wat as ons alreeds geagd, gekend en geliefd voel deur die Een wat hierdie Geskenk vir ons aanbied en vir ons omgee?


“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.” – Jakobus 1:17


Jesus Christus is die volmaakte geskenk! God het in Jesus vir ons die volmaakte geskenk gegee, en met Kersfees vier ons sy geboorte. Deur Hom kan ons vryheid van sonde en dood, en ook hoop, geloof, vreugde en vrede ervaar. 


As gevolg van Jesus het ons die kans om ongelooflike geskenke van God, ons hemelse Vader, te ontvang. Jesus is die grootste geskenk wat God aan ons gegee het, maar God het nie by Jesus opgehou om geskenke te gee nie. Hy het ons ook nog baie meer geskenke gegee, geskenke wat ons ontvang wanneer ons op Jesus vertrou. Terwyl ons ons harte voorberei vir die viering van Jesus se geboorte, kan ons ons gedagtes en harte rig op die geskenke wat Hy aan ons gegee het. 


Die Grootste Geskenk is ‘n ses weke lange Bybelstudie wat daarop gemik is om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God, ons groot Gewer, en wat dit beteken om ‘n lewe van dankbaarheid te lei. Namate ons die Adventstyd binnegaan, sal ons ‘n paar van die gawes wat God in Jesus vir ons gegee het, bestudeer; elke gawe stem ooreen met die weke van Advent: hoop, geloof, vreugde en vrede.  





S.O.A.P.


Hier by Love God Greatly Afrikaans, gebruik ons die SOAP-metode vir ons Bybelstudies. Die SOAP-metode maak dit vir jou moontlik om dieper te delf in die verse en meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te S.O.A.P. en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd sal kry.




Wat beteken S.O.A.P.?


S – Die S staan vir Scripture – jy skryf die teksverse neer ... jy sal verbaas wees om te sien wat God aan jou in sy Woord sal openbaar deur net tyd te maak om die verse neer te skryf!


O – Die O staan vir Observation – wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?


A – Die A staan vir Application – Dit is wanneer die Woord van God persoonlik word. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het, in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek maak?


P – Die P staan vir Prayer. Bid die Woord van God terug na Hom toe. As Hy gedurende hierdie tyd iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely as Hy vir jou op sonde in jou lewe gewys het.




Inleiding:


Wanneer ons 'n anonieme geskenk ontvang, mag dit dalk opwindend en aangenaam wees, maar die rede waarom ons dit ontvang het, ontbreek. Wanneer ons beste vriendin vir ons 'n geskenk gee, weet ons dat dit uit liefde vir ons, kennis van ons en omgee vir ons gedoen is. Afhangende van wie jy die geskenk ontvang het, dra dit ‘n sekere betekenis.


God is die Een wat vir ons elke volmaakte geskenk gee. Nie net het Hy vir ons Jesus, sy enigste Seun, as die grootste geskenk in die geskiedenis gegee nie, Hy bied ook daagliks geskenke aan ons. Hy is goedheid self, en weerhou niks goeds van ons nie, want Hy alleen is goed. Jesus Christus is die grootste geskenk wat die enigste goeie Gewer aan ons gegee het, maar Hy is nie die enigste geskenk wat ons van God ontvang het nie!


Hoop. God belowe dat ons hoop, wanneer ons dit in Jesus plaas, ons nooit sal teleurstel nie. Ons het hoop in die beloftes wat God ons gee asook hoop in ons komende verlossing. Ons kan God prys vir die gawe van hoop, omdat ons sy getrouheid daarin sien.


Geloof. Geloof dien 'n doel, en daarsonder kan ons God nie behaag nie. Geloof is egter 'n gawe wat deur Jesus aan ons gegee word. Deur geloof werk die Heilige Gees in ons om ons meer soos Christus te maak en om ons te beskerm teen die aanvalle van die vyand.


Vreugde. Afgesien van Christus, kan ons nooit ware blywende vreugde hê nie. Hy alleen is die bron van vreugde, en Hy gee ons elke dag vreugde terwyl ons saam met Hom wandel. Deur Christus alleen kan ons vreugde hê, ongeag ons omstandighede.


Vrede. Jesus Christus is die Vredevors. In Hom het ons vrede in ons harte en gedagtes, omdat Hy elke stryd reeds gewen het. Hy gaan voor ons uit en sal ons nooit verlaat nie.


Terwyl ons vashou aan die Gewer en die gawes wat Hy ons bied, kan ons 'n lewe van ware dankbaarheid teenoor Hom leef. Soos ons die ongelooflike gawes wat ons in Christus het bestudeer, kan ons God aanbid en Hom prys vir wie Hy is en wat Hy gedoen het. Hy is die enigste geskenk wat ons nodig het, en Hy is die grootste geskenk wat aan ons gegee is en ooit gegee sal word.


God is die Een wat ons elke volmaakte geskenk bied.




Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Die Grootste Geskenk

Hierdie ses weke lange Bybelstudie is daarop gemik om ons harte voor te berei om die grootste van alle geskenke te vier: Jesus Christus. Hierdie studie fokus op die karakter van God en wat dit beteken om ‘n lewe van dank...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid