JEREMIA 15:10-21

JEREMIA 15:10-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Jeremia, het gesê: “Ma, dit gaan sleg met my. Ek, jou kind, moet al die mense in die land beskuldig en vir hulle sê hulle het verkeerd gedoen. Ek het vir niemand geld geleen nie, en ek het by niemand geld geleen nie, maar almal wil hê ek moet sterf.” Die Here het vir my gesê: “Dit is waar, maar Ek het jou hardkoppig gemaak, en dit was goed vir jou. Dit is waar, maar Ek het jou beskerm teen jou vyande toe dit sleg gegaan het met jou en toe jy swaargekry het.” Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Julle is soos yster, maar die vyande uit die noorde is soos yster en brons, julle kan hulle nie breek nie. Julle almal in julle hele land het sonde gedoen. Daarom gee Ek julle baie en duur goed verniet weg, die vyande kan dit vat. Julle vyande sal julle wegvat na 'n land wat julle nie ken nie. Ek sal dit laat gebeur, want Ek is kwaad vir julle en Ek wil julle straf. Dit sal wees soos 'n vuur wat brand.” Ek, Jeremia, het vir die Here gesê: “U weet hoe die mense my verneder omdat ek aan U behoort. Dink aan my en beskerm my en straf die mense wat my wil vang en doodmaak. Moenie aanhou kwaad wees vir my en my laat sterf nie. Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U. Maar ek kon nie saam met ander mense sit en gesels en lag en dit geniet nie, ek het alleen gesit omdat ek aan U behoort. U was kwaad en U het my ook kwaad laat word. Hoekom moet ek aanhou swaarkry en seerkry? Hoekom verander dit nie? Dit help my nie dat ek aan U behoort nie, U is soos 'n rivier waar ek water wil drink, maar as ek daar kom, dan is dit droog.” Die Here het toe vir my gesê: “As jy ophou om so te praat, dan kan jy terugkom na My toe en jy kan my dienaar wees. As jy sê wat jy moet sê en nie terugpraat teen My nie, dan mag jy my profeet wees. Daardie mense wat sit en lag, moet word soos jy, jy moenie soos hulle word nie. Ek maak jou soos 'n sterk muur, 'n muur van brons. Hulle sal met jou baklei, maar hulle sal jou nie wen nie, want Ek is by jou en Ek sal jou red en jou vrymaak. Ek sal jou vrymaak van die slegte mense, die mense wat jou wil seermaak.”

JEREMIA 15:10-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Wee my, my moeder, dat u my gebaar het — 'n man van twis en 'n man van stryd vir die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie; almal vloek my. Die HERE het gesê: Waarlik, Ek bevry jou ten goede; waarlik, Ek maak dat die vyand jou ootmoedig smeek in tyd van onheil en in tyd van benoudheid. Kan 'n mens yster breek, yster uit die noorde, en koper? Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied. En Ek sal jou jou vyande laat dien in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand. O HERE, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers. Neem my in u lankmoedigheid nie weg nie. Weet dat ek smaad dra om U ontwil. Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare! Ek het nie gesit in 'n vergadering van spotters of was nie uitgelate nie; vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met grimmigheid vervul. Waarom is my smart ewigdurend en my wond ongeneeslik? Dit weier om gesond te word. Sou U vir my waarlik wees soos 'n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie? Daarom, so sê die HERE: As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees. Laat húlle na jou terugkeer, maar jy moet nie na hulle terugkeer nie. En Ek sal jou 'n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.

JEREMIA 15:10-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende het my getref, Ma, toe Ma my in die wêreld gebring het. Ek is 'n man wat dwarsdeur die land mense moet beskuldig en met hulle moet twis. Ek het aan niemand iets geleen nie en by niemand geleen nie, tog vervloek almal my. Die Here het belowe: Ek laat jou op die volk los, maar ten goede, Ek sal vir jou by jou vyande voorspraak doen in tyd van nood en rampe. Kan 'n mens yster breek, yster uit die noorde, of brons? Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat, Israel, nie omdat Ek iets in ruil daarvoor kry nie maar omdat jy dwarsoor jou land gesondig het. Ek sal jou deur jou vyande laat wegvoer na 'n land toe wat jy nie ken nie. In my toorn sal daar 'n vuur losbreek, en dit sal jou brand. U weet alles, Here: dink aan my, neem my onder u sorg, straf my vervolgers oor wat hulle aan my doen. Moet tog nie u toorn laat voortduur en my laat sterf nie; neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word. Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my 'n vreugde; ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God. Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word en dit saam geniet nie; U het my in besit geneem en ek moes alleen sit, vol van die verontwaardiging wat van U af kom. Waarom is daar nie 'n einde aan my pyn nie, waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie? Ek kan nie op U reken nie, net so min as op 'n stroom wat nie standhoudend is nie. Die Here het toe gesê: As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat. Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie. Ek maak jou vir hierdie volk 'n bronsmuur waardeur hulle nie kan dring nie; hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou help en jou red. Ek sal jou red uit die mag van slegte mense, jou bevry van dié wat op geweld uit is.

JEREMIA 15:10-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wee my! Ag, my moeder, dat u my in die wêreld gebring het – 'n man wat aankla en stryd voer met die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie, maar almal vervloek my. Die HERE het gesê: “Waarlik, Ek sal jou onversetlik maak tot jou beswil; waarlik, Ek sal vir jou by die vyand intree in tye van onheil en nood. Kan iemand yster breek, yster uit die noorde, of koper? “ Jou rykdom en skatte sal Ek as buit gee, nie vir geld nie, maar as die prys vir al jou sondes, en as die prys vir jou hele grondgebied. Ek sal jou 'n slaaf maak van jou vyande in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur, aangesteek in my toorn, sal telkens teen julle opvlam.” U weet dit self, HERE. Dink aan my, sien om na my, wreek my op my vervolgers. Moet my nie wegneem ter wille van u geduld met ander nie. Besef tog dat ek oor U bespotting moet verduur. Toe u woorde gevind is, het ek hulle verslind. U woorde was vir my 'n vreugde, 'n genot vir my hart. U Naam is immers oor my uitgeroep, HERE, God van alle magte! Ek het nie in die kring van uitbundiges gesit nie, en ek was nie uitgelate nie. Vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met u verontwaardiging gevul. Waarom is my pyn onophoudelik? Waarom is my wond ongeneeslik, wil dit nie gesond word nie? U het inderdaad vir my geword soos 'n bedrieglike stroom water wat nie standhoudend is nie. Daarom, so sê die HERE: “As jy jou bekeer, en Ek jou toelaat om jou te bekeer, sal jy in my diens staan. As jy woorde wat waardevol is, uitspreek, en nie wat waardeloos is nie, sal jy weer my segsman wees. Hulle moet na jou terugkeer – jy moet nie na hulle terugkeer nie. Ek sal jou vir hierdie volk 'n versterkte stadsmuur van koper maak. Hulle sal teen jou veg, maar nie die oorhand oor jou kry nie; want Ek is met jou om jou te verlos en jou te red,” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal jou red uit die hand van slegte mense, jou bevry uit die greep van geweldenaars.”

JEREMIA 15:10-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee my, my moeder, dat jy vir my 'n man van twis en 'n man van twis vir die hele aarde gebaar het! Ek het nie op woeker geleen nie, en mense het my nie op woeker geleen nie; tog vloek elkeen van hulle my. Die HERE het gesê: Voorwaar, dit sal goed gaan met jou oorblyfsel; voorwaar, Ek sal die vyand by jou goed laat smeek in die tyd van onheil en in die tyd van benoudheid. Sal yster die noordelike yster en die staal breek? Jou besittings en jou skatte sal Ek verniet aan die buit gee, en dit vir al jou sondes, ook in jou hele grondgebied. En Ek sal jou saam met jou vyande laat deurtrek na 'n land wat jy nie ken nie, want 'n vuur is aangesteek in my toorn wat oor jou sal brand. O HERE, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers; neem my nie weg in u lankmoedigheid nie; weet dat ek om U ontwil gestraf is. U woorde is gevind, en ek het dit geëet; en u woord was vir my 'n vreugde en blydskap van my hart, want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare. Ek het nie gesit in die vergadering van die spotters nie, en ek was nie bly nie; Ek het alleen gesit ter wille van u hand, want U het my met grimmigheid vervul. Waarom is my pyn ewigdurend en my wond ongeneeslik, wat weier om genees te word? sal jy vir my heeltemal wees soos 'n leuenaar en soos waters wat ophou? Daarom, so sê die HERE: As jy jou bekeer, dan sal Ek jou terugbring, en jy sal voor My aangesig staan; maar bekeer jy nie tot hulle nie. En Ek sal jou vir hierdie volk 'n omheinde kopermuur maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en jou te red, spreek die HERE. En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose, en Ek sal jou verlos uit die hand van die gedug.

JEREMIA 15:10-21 Die Boodskap (DB)

Ek het gesê: “Dit gaan sleg met my! Hoekom het Ma my ooit in die wêreld gebring? Ek is altyd aan die stry en baklei met almal in die land. Al het ek niks uitgeleen nie en al het ek niks by iemand anders geleen nie, wens almal my slegte dinge toe.” Die Here het geantwoord: “Dit sal met jou goed gaan, Jeremia. Jou vyande sal nog vir jou kom vra om namens hulle om hulp te smeek as moeilike en swaar tye kom. Ek sal jou so sterk maak soos ’n stuk yster uit die noorde of ’n stuk koper wat nie gebreek kan word nie.” Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Julle het oral in die land baie verkeerde dinge gedoen. Omdat dit so is, Israel, sal Ek al julle rykdom en julle besittings as buit vir julle vyand gee. Ek sal dat julle vyande julle wegvat na ’n land wat julle nie ken nie. My woede is so groot, dit is soos ’n vuur wat brand. Dit sal nooit ophou brand nie.” Toe bid ek: “Here, U weet alles. Dink tog aan my en help my. Straf die mense wat my vervolg. Moenie toelaat dat hulle my doodmaak nie! Onthou asseblief dat ek verneder word omdat Ek vir U werk. Here, toe U gepraat het, het ek mooi geluister en elke woord ingeneem. Wat ek gehoor het, het my baie bly gemaak. Here, U is sterker as alles en almal. Dit maak my opgewonde om te weet dat ek aan U behoort. Ek was nie deel van die groep mense wat gespot het nie. Ek het my eenkant gehou, want my lewe het nou aan U behoort. Al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, het my baie kwaad gemaak. Waarom hou my swaarkry nie op nie? Waarom word my wonde nie gesond nie? Soms voel dit vir my of ek nie seker kan wees dat U my sal help nie. Dit is soos ’n stroompie waarvan jy nie altyd seker is dat daar water in sal wees nie.” Die Here sê toe: “As jy doen wat Ek wil hê jy moet doen, sal Ek jou weer gebruik soos vroeër. As jy ophou om onverantwoordelike dinge te sê, kan jy weer namens My praat. Jy moet sorg dat ander mense jou voorbeeld volg, nie jy hulle voorbeeld nie. Hierdie mense sal teen jou baklei asof hulle besig is met ’n oorlog. Moenie bekommerd wees nie, Ek sal jou so sterk soos ’n kopermuur maak. Hulle sal jou nie wen nie. Ek sal jou beskerm en jou red,” sê die Here. “Ek sal jou uit die mag van hierdie slegte mense red. Ek sal jou teen hulle wreedheid beskerm.”

JEREMIA 15:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Wee my, Ma, dat u my in die wêreld gebring het. Deur die hele land baklei mense met my. Al het ek niks uitgeleen wat ek terugvra of by ander geleen wat ek nie wil teruggee nie, vervloek almal my.” Die HERE het geantwoord: “Dit sal goed gaan met jou. In tye van nood en ellende sal jou vyande jou vra om vir hulle in te tree by My. “Kan ’n mens ’n stuk yster breek, of brons wat uit die noorde kom? Jou rykdom en besittings sal Ek as buit vir die vyand gee oor al jou verkeerde dade. Ek laat jou vyande jou wegneem om as ballinge in ’n vreemde land te gaan leef. Want my woede brand soos ’n vuur en sal julle verteer.” “HERE, U weet alles. Dink tog aan my en help my. Straf die mense wat my vervolg! Moenie toelaat dat hulle my doodmaak nie! Wees genadig! Neem tog in ag dat ek ter wille van U bespot is. Toe U gepraat het, het ek noukeurig geluister. Ek het elke woord ingeneem. U woorde het my bly gemaak. Dit het my opgewonde gemaak om te weet dat ek aan U behoort, o HERE, God, die Almagtige. Ek het nooit na die volk se vrolike partytjies gegaan nie. Ek het alleen gesit omdat u hand op my was. Ek was verontwaardig oor hulle sonde. Waarom hou my lyding dan net aan en aan? Waarom genees my wonde nie? U hulp is vir my so bedrieglik soos ’n wisselvallige waterstroom, soos ’n fontein wat opdroog.” Die HERE antwoord toe: “As jy terugkom na My toe, sal Ek jou herstel sodat jy My weer kan dien. As jy ophou om onverantwoordelike dinge te sê, sal jy namens My kan praat. Jy moet hulle beïnvloed, nie hulle vir jou nie. Ek maak jou ’n muur van brons vir hierdie volk. Hulle sal teen jou veg, maar sal jou nie oorwin nie. Ek sal jou beskerm en jou red,” sê die HERE. “Ek sal jou red uit die mag van hierdie slegte mense, en jou beskerm teen hulle wreedheid.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid