Jeremia 15:10-21

Jeremia 15:10-21 AFR20

Wee my! Ag, my moeder, dat u my in die wêreld gebring het – 'n man wat aankla en stryd voer met die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie, maar almal vervloek my. Die HERE het gesê: “Waarlik, Ek sal jou onversetlik maak tot jou beswil; waarlik, Ek sal vir jou by die vyand intree in tye van onheil en nood. Kan iemand yster breek, yster uit die noorde, of koper? “ Jou rykdom en skatte sal Ek as buit gee, nie vir geld nie, maar as die prys vir al jou sondes, en as die prys vir jou hele grondgebied. Ek sal jou 'n slaaf maak van jou vyande in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur, aangesteek in my toorn, sal telkens teen julle opvlam.” U weet dit self, HERE. Dink aan my, sien om na my, wreek my op my vervolgers. Moet my nie wegneem ter wille van u geduld met ander nie. Besef tog dat ek oor U bespotting moet verduur. Toe u woorde gevind is, het ek hulle verslind. U woorde was vir my 'n vreugde, 'n genot vir my hart. U Naam is immers oor my uitgeroep, HERE, God van alle magte! Ek het nie in die kring van uitbundiges gesit nie, en ek was nie uitgelate nie. Vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met u verontwaardiging gevul. Waarom is my pyn onophoudelik? Waarom is my wond ongeneeslik, wil dit nie gesond word nie? U het inderdaad vir my geword soos 'n bedrieglike stroom water wat nie standhoudend is nie. Daarom, so sê die HERE: “As jy jou bekeer, en Ek jou toelaat om jou te bekeer, sal jy in my diens staan. As jy woorde wat waardevol is, uitspreek, en nie wat waardeloos is nie, sal jy weer my segsman wees. Hulle moet na jou terugkeer – jy moet nie na hulle terugkeer nie. Ek sal jou vir hierdie volk 'n versterkte stadsmuur van koper maak. Hulle sal teen jou veg, maar nie die oorhand oor jou kry nie; want Ek is met jou om jou te verlos en jou te red,” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal jou red uit die hand van slegte mense, jou bevry uit die greep van geweldenaars.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid