SPREUKE 17

17
1Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby
as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.
2'n Verstandige slaaf sal gesag kry oor 'n seun
wat 'n verleentheid is
en sal 'n erfgenaam word saam met die seun se broers.
3Silwer word in 'n smeltkroes gelouter en goud in 'n oond,
maar dit is die Here wat die gesindheid toets.
4Wie op onreg uit is, luister gretig na kwaadwillige woorde;
wie van valsheid hou, hoor graag woorde wat verderf saai.
5Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker;
wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander,
sal self nie vrykom nie.
6Kleinkinders is vir oumense 'n trots;
vaders is vir hulle seuns 'n sieraad.
7Verstandige woorde soek jy nie by 'n dwaas nie,
nog minder leuens by 'n man van aansien.
8Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag;
vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan.
9Wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam,
soek goeie verhoudinge;
wie 'n saak bly ophaal,
bring verwydering tussen vriende.
10'n Enkele dreigement maak meer indruk op 'n verstandige mens
as honderd houe op 'n dwaas.
11'n Slegte mens is net op kwaad uit,
maar iemand sal gestuur word om hom te straf.
12'n Mens kan liewer 'n beerwyfie raakloop
wat van haar kleintjies beroof is,
as 'n dwaas met sy sotheid.
13As jy goed met kwaad vergeld,
sal die kwaad nooit uit jou huis wyk nie.
14Om rusie te begin, is om 'n damwal te breek;
staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.
15Die Here het 'n afsku van wie die skuldige onskuldig verklaar
én van wie die onskuldige skuldig verklaar.
16Watter nut het dit as 'n dwaas geld in die hand het
om wysheid te koop en hy het nie verstand nie?
17Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken;
jou broer is daar met die oog op jou nood.
18Dit is 'n mens sonder insig wat borg staan,
wat instaan vir die skuld van sy naaste.
19Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie;
wie homself hoog aanslaan, soek sy eie ondergang.
20'n Vals mens sal nie voorspoed hê nie;
wie die waarheid verdraai, sal ondergaan.
21Daar wag hartseer vir die vader van 'n dwaas;
wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie.
22'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,
'n neerslagtige mens raak uitgeput.
23'n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg.
24'n Verstandige mens hou hom besig met wysheid,
maar 'n dwaas se gedagte dwaal doelloos rond.
25'n Onverstandige seun is vir sy ouers 'n ergernis,
hy is vir hulle 'n bitter verdriet.
26Selfs al beboet jy 'n onskuldige mens net, is dit verkeerd,
en om 'n man van aansien te laat slaan, druis in teen die reg.
27Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees;
'n mens met insig bly kalm.
28As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse,
en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.

Tans Gekies:

SPREUKE 17: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid