HABAKUK 1:1-17

HABAKUK 1:1-17 AFR83

'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het. Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag. Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s'n is nie. Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie. Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in. Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god. U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is? Die Galdeërs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs! Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos! Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid