EKSODUS 15:1-18

EKSODUS 15:1-18 AFR83

Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! Die strydwaens van die farao en ook sy leër het Hy in die see geslinger. Die keur van Egipte se offisiere is in die Rietsee gedompel. Watermassas het hulle oordek, soos 'n klip het hulle in die dieptes afgesak. U regterhand, Here, gedug in sy krag, u regterhand, Here, verpletter die vyand. U is hoog verhewe, U vernietig wie teen U opstaan, U laat u toorn woed, dit verteer hulle soos kaf. U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos 'n muur, watermassas stol in die hart van die see. Die vyand sê: ‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal, ek sal die buit verdeel, ek sal my sin kry, ek sal my swaard trek, my hand sal hulle verslaan.’ “U laat u wind waai: die see oordek hulle, hulle sink soos lood in die magtige waters. Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade! U het u regterhand uitgesteek; die aarde het die vyand ingesluk. Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is, hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe. Die volke het dit gehoor en hulle het gesidder, angs het die bewoners van Filistea beetgepak, die stamhoofde van Edom was verskrik, die magtiges van Moab vreesbevange, al die bewoners van Kanaän was lam geskrik. Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek, Here, toe die volk wat U u eie gemaak het, deurtrek. U het hulle ingebring, U het hulle geplant op die berg wat aan U behoort. Here, U het 'n plek vir u troon voorberei, u hande, Here, het 'n gewyde plek gereed gemaak. Die Here regeer tot in ewigheid!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor EKSODUS 15:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid