1 KORINTIËRS 8

8
Die vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is
1En nou julle vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is.
Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. 2As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat 'n mens behoort te hê nie. 3Maar as iemand God liefhet, ken God hom.
4Wat nou betref die eet van vleis wat aan 'n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. 5En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, 6is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.
7Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit 'n offer aan 'n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. 8Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. 9Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde word nie. 10As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? 11Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het. 12Deur so teen die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. 13Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid