Job 2

2
Job se tweede toets
1Op ’n dag het die inwoners van die hemel weer na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. 2Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.”
3Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg. Jy het My nou wel oorreed om hom sonder enige rede kwaad aan te doen, maar hy bly nog steeds by wat hy glo. Hy is nie van koers af gegooi nie.”
4Die Satan het die Here geantwoord: “Dit bewys niks nie. Hy leef reg voor U net omdat dit hom pas. ’n Mens sal enigiets prysgee as dit waarborg dat jy sal bly lewe. 5Maar vat net sy gesondheid weg en hy sal U in u gesig slegsê!”
6Die Here het vir Satan toegegee: “Nou maar maak dan met Job soos jy wil, maar op een voorwaarde: jy spaar sy lewe!” 7Satan is toe daar weg. Hy het Job in die hande gekry en hom siek gemaak. Sy hele lyf, van sy kop tot sy tone, het vol sere geword. 8Job het eenkant in die as gaan sit. Hy het ’n potskerf gevat en sy vel daarmee geskraap.
9Sy vrou het met hom gepraat en gevra: “Bly jy nog steeds by wat jy glo reg is, Job? Hoekom vloek jy nie die Here en kry klaar en gaan dan dood nie.”
10Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat net mooi niks verstaan nie. As die Here vir ons goeie dinge gee, vat ons dit sonder om twee keer daaroor te dink. Dink jy dan nie dat ons dit moet aanvaar as Hy ook slegte dinge met ons laat gebeur nie?” Al het al hierdie slegte dinge met Job gebeur, het hy steeds nie iets verkeerds gesê nie.
Job se drie vriende kom kuier
11Job het drie vriende gehad wat vir hom kom kuier het. Hulle was Elifas, wat uit Teman gekom het, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het gehoor van die slegte dinge wat Job oorgekom het. Hulle het op ’n tyd besluit en saam vir Job kom kuier. Hulle wou graag vir hom kom sê hoe jammer hulle is oor wat met hom gebeur het en hom kom moed inpraat. 12Toe hulle Job op ’n afstand sien sit, kon hulle hom skaars herken, in so ’n toestand was hy. Hulle het bitterlik begin huil. Om te wys dat dit vir hulle soos dood was, het hulle hulle klere geskeur en as op hulle koppe gegooi. 13Hulle het toe vir sewe dae en nagte by hom op die grond gaan sit. Nie een van hulle het ’n woord gesê nie: hulle het tjoepstil gebly. Hulle kon sien dat sy pyn en lyding bitter groot was. Dit was beter om nie te praat nie.

Tans Gekies:

Job 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid