Amos 7

7
Sprinkane wat alles wegvreet
1Die Here het my in ’n gesig ’n swerm sprinkane laat sien. Die gras vir die koning se perde was net mooi afgesny en die eerste grassies het weer begin uitspruit. Die swerm sprinkane het op die gras toegesak. 2Toe ek sien dat hulle al die nuwe gras gaan wegvreet, het ek gesê: “Here, moet asseblief nie so hard wees nie. Jakob is mos maar klein en swak. Hoe sal hulle na so iets nog kan bly leef?”
3Die Here het hulle toe jammer gekry. Hy het gesê: “Ek sal dit nie met hulle laat gebeur nie.”
Vuur wat alles verteer
4Die Here het my in ’n gesig laat sien hoe Hy ’n skroeiende vuur gebruik om sy volk mee te straf. Dit het eers die onderaardse water laat opdroog. Toe dit ook die grond begin wegbrand, 5het ek by die Here gepleit: “Hou asseblief tog op. Hoe sal die swak en nietige Jakob na so iets nog kan bly leef?”
6Die Here het toe sy plan verander. Hy het gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”
Israel het verkeerd gebou
7Die Here het my in ’n gesig laat sien waar Hy by ’n muur staan. Hy het ’n maatband in sy hand gehou. 8Die Here vra toe vir my: “Amos, wat sien jy, wat het Ek hier in my hand?”
Ek antwoord toe: “’n Maatband waarmee ’n mens meet of alles volgens die planne gebou is.”
Die Here sê toe: “Ek gaan hierdie maatband gebruik om my volk Israel te meet. Ek gaan dit nie verder verdra dat hulle so verkeerd leef nie. 9Die plekke wat Isak gebou het om op te offer, gaan afgebreek word. Van die aanbiddingsplekke wat Israel vir my gebou het, gaan daar net murasies oorbly. Ek gaan oorlog laat uitbreek teen die huis van koning Jerobeam.”
Amasia die priester van Bet-El
10Toe Amasia, die priester van die plek van aanbidding by Bet-El, hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n opstand teen u in Israel te organiseer. Die land kan nie sulke dinge laat gebeur nie. 11Amos loop vir die hele wêreld en vertel dat Jerobeam doodgemaak gaan word en die volk van Israel dan uit die land weggevat gaan word na ’n ander land toe.”
12Amasia het na Amos toe gegaan en in sy gesig vir hom gesê: “Hier is nie plek by ons vir mense wat allerhande goed sien nie. Gee pad! Gaan terug na Juda toe! Gaan sê vir hulle wat jy alles sien, dat hulle jou daarvoor kan betaal. 13Hierdie plek van aanbidding by Bet-El is ’n koning se plek. Dit behoort aan die regering van Israel. Jy kan nie aangaan om jou boodskappe hier te bring nie.”
14Amos het Amasia teruggeantwoord: “Ek bring nie die Here se boodskap vir geld nie. Dit is ook nie my werk nie. My pa was ook nie ’n boodskapper vir God dat ek dit by hom geleer het nie. Ek boer met skape en vye. 15Die Here het my kom haal daar waar ek met my skape besig was. Hy het vir my gesê: ‘Gaan bring my boodskap vir my volk Israel.’
16“Hoor wat sê die Here vir jou, Amasia. Jy probeer keer dat ek die Here se woord vir Israel bring. Jy wil nie hê ek moet vir Isak se nageslag sê wat die Here vir my oor hulle gewys het nie. 17Die Here het besluit dat jou vrou ’n prostituut gaan word wat op die strate rondlê. Jou kinders sal in die oorlog doodgemaak word. Jou land sal in stukke verdeel word. Jy self sal uiteindelik in ’n vreemde land aan jou einde kom. Israel sal sonder twyfel uit sy land weggevat word na ’n ander land toe.”

Tans Gekies:

Amos 7: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid