1 Johannes 1 Johannes 4

1 Johannes 4
Valse leeraars
1Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar toets die geeste of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
2Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God.
3En elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die antichris waarvan julle gehoor het dat hy sou kom; en selfs nou al is dit in die wêreld.
4Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, want Hy wat in julle is, is groter as Hy wat in die wêreld is.
5Hulle is van die wêreld; daarom spreek hulle van die wêreld, en die wêreld luister na hulle.
6Ons is uit God; wie God ken, luister na ons; wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieraan ken ons die gees van waarheid en die gees van dwaling.
God is Liefde
7Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want liefde is uit God; en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
8Hy wat nie liefhet nie, ken God nie; want God is liefde.
9Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, omdat God sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
10Hierin is die liefde, nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.
12Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak geword.
13Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, omdat Hy ons van sy Gees gegee het.
14En ons het gesien en getuig dat die Vader die Seun gestuur het om die Verlosser van die wêreld te wees.
15Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God.
16En ons het die liefde wat God tot ons het, geken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom.
17Hierin is ons liefde volbring, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag, want soos Hy is, so is ons in hierdie wêreld.
18Daar is geen vrees in liefde nie; maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees het pyniging. Hy wat vrees, word nie in liefde volmaak nie.
19Ons het hom lief, omdat hy ons eerste liefgehad het.
20As iemand sê: Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
21En hierdie gebod het ons van hom, dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid