Romeine 5

5
Voorreg van Christenwees
1 Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. 2Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God. 3Maar dis nie al nie: Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, 4en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. 5En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 7'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. 8 God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Hoeveel te meer sal ons dan deur Hom van die oordeel gered word, noudat ons deur sy bloed geregverdig is! 10 As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is! 11Maar dis nie al nie; ons vind ons roem ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
Oorvloed van God se genade
12Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. 14Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. 15Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. 16En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot •vryspraak van baie oortredings gelei. 17Want as deur die oortreding van die een mens die dood deur daardie een mens begin heers het, sal hulle wat die oorvloed van God se genade ontvang, ja, die gawe van sy regverdiging, nog soveel eerder deur die een mens, Jesus Christus, in die lewe regeer.
18 Daarom dan, soos daar deur die oortreding van een mens veroordeling oor alle mense gekom het, so het daar ook deur die een mens se gehoorsame optrede vir alle mense regverdiging tot die lewe gekom. 19Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie mense tot sondaars gemaak is, so ook sal deur die gehoorsaamheid van die Een baie mense geregverdig word. 20Die wet het daarby gekom, met die gevolg dat die oortreding toegeneem het; maar namate die sonde toegeneem het, het die genade nog soveel oorvloediger geword. 21 Dus: Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.

Tans Gekies:

Romeine 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid