Psalms 51

51
1Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. 2 Toe die profeet Natan na hom gegaan het nadat hy met Batseba omgang gehad het.
3 Wees my genadig, o God,
volgens u troue liefde;
wis my oortredings uit
volgens u groot ontferming.
4Was my heeltemal skoon van my sondeskuld
en reinig my van my sonde
5want ek is deeglik bewus
van my oortredings
en my sonde is voortdurend voor my.
6Teen U, teen U alleen, het ek gesondig
en gedoen wat verkeerd is in u oë,
sodat U gelyk sal hê
as U uitspraak lewer,
volkome reg wanneer U oordeel.
7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore,
sondig toe my moeder
met my swanger geraak het.
8Kyk, getrouheid verwag u reeds
in die moederskoot,
in die verborgenheid leer U my wysheid.
9Neem my sonde weg met marjolein
sodat ek rein kan wees,
was my, dan sal ek witter as sneeu wees.
10Laat my weer uitroepe
van vreugde en blydskap hoor;
laat die gebeente
wat U verbrysel het, juig.
11Sluit u oë vir my sonde,
en al my sondeskuld, wis dit uit!
12Skep 'n rein hart vir my, o God,
vernuwe 'n bestendige gees
in my binneste.
13Moet my tog nie wegdryf
uit u teenwoordigheid nie;
en moet u •heilige Gees
nie van my wegneem nie.
14Laat my weer die vreugde
oor u verlossing ervaar,
laat 'n gewillige gees my ondersteun.
15Ek wil oortreders u paaie leer,
dat sondaars na U kan terugkeer.
16Red my van bloedskuld, o God,
God wat my verlos, laat my tong
juig oor u geregtigheid.
17My Heer, maak my lippe oop
en my mond sal u lof verkondig.
18U vind immers geen vreugde
in slagoffers nie,
anders sou ek dit gee;
•brandoffers aanvaar U nie.
19Offers aan God is 'n gebroke gees,
'n gebroke en verpletterde hart
sal U, o God, nie minag nie.
20Doen volgens u wil goed aan Sion,
herbou die mure van Jerusalem.
21Dan sal U vreugde vind in offers van geregtigheid –
brandoffers en volledige offers –
Dan sal daar op u altaar
jong bulle geoffer word.

Tans Gekies:

Psalms 51: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid