Matteus 11

11
1Toe Jesus sy opdragte aan sy twaalf dissipels voltooi het, het Hy daarvandaan vertrek om in hulle dorpe te leer en te preek.
Antwoord aan Johannes die Doper
(Luk 7:18-35)
2Toe Johannes in die tronk verneem wat Christus alles doen, het hy sy dissipels gestuur om 3Hom te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?”
4Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:
5“Blindes sien weer
en verlamdes loop,
melaatses word gereinig,
dowes hoor,
dooies word opgewek
en aan armes word die goeie boodskap verkondig.
6“En gelukkig is die mens wat nie aan My aanstoot neem nie. ”
7Met hulle vertrek het Jesus begin om met die skare oor Johannes te praat: “Maar wat wou julle gaan sien toe julle na die woestyn uitgegaan het? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? 8Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Kyk, mense met deftige klere woon in konings se paleise. 9Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. 10Hy is die een oor wie geskryf staan:
“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit –
hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’
11“•Amen, Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie; en tog is die geringste in die •koninkryk van die hemele groter as hy. 12 Maar sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe ly die koninkryk van die hemele onder geweld en probeer geweldenaars dit in besit neem. 13Want al die Profete en die Wet, tot en met Johannes, het daaroor geprofeteer. 14En as julle dit wil aanvaar – hy is Elia wat sou kom. 15 Laat dié wat ore het, luister!
16“Maar met wie kan Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is soos kindertjies wat op die markpleine sit en na mekaar roep,
17“ ‘Ons het vir julle fluit gespeel,
maar julle wou nie dans nie;
ons het 'n treurlied gesing,
maar julle wou nie weeklaag nie!’
18“Want Johannes het gekom,
en hy eet en drink nie,
“en hulle sê,
“ ‘Hy is van 'n demoon besete.’
19“Die •Seun van die Mens het gekom,
en Hy eet en drink,
“en hulle sê,
“ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap,
'n vriend van •tollenaars en sondaars.’
“Maar die wysheid
word deur haar dade reg bewys.”
Ellende vir die onboetvaardige stede
(Luk 10:12-15)
20Toe het Jesus begin om die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie.
21“Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 22Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 23En jy, Kapernaum,
“ ‘Sal jy tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal na Hades afdaal!’
“Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. 24 Maar Ek sê vir julle, dit sal vir die gebied van Sodom op die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”
Jesus se lof aan die Vader
(Luk 10:21-22)
25In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. 26Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. 27Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.
28“ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30 Want my juk is draaglik en my las is lig.”

Tans Gekies:

Matteus 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid