Efesiërs 1

1
1Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God,
aan die heiliges wat in Efese is, die gelowiges in Christus Jesus:
2Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
Lof aan God
3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!
Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.
4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies,
sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees,
5nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem,
soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het,
6tot lof van die heerlikheid van sy genade,
waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het.
7In Hom het ons die bevryding deur sy bloed,
die vergewing van ons oortredings
uit die rykdom van sy genade,
8wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het,
saam met alle wysheid en insig.
9Hy het die geheimenis van sy wil
aan ons bekend gemaak,
soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –
onder een Hoof in Christus saam te bring,
11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies,
voorbestem volgens die voorneme
van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,
12sodat ons,
wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het,
kan bestaan tot lof van sy heerlikheid.
13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid,
die evangelie van julle verlossing,
gehoor en tot geloof gekom het,
verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
14Die Gees is die waarborg van ons erfenis,
om ons los te koop as God se eiendom,
tot lof van sy heerlikheid.
Voorbidding en geloofsuitspraak
15Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges, 16hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. 17 Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, 18en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien
wat die hoop is wat sy roeping bied,
wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels,
19wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is,
vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag,
20wat Hy uitgeoefen het in Christus,
toe Hy Hom uit die dood opgewek het,
en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,
21 bo elke owerheid en gesag en mag en heerser,
ja, bo enige naam wat genoem kan word,
nie alleen in hierdie bedeling nie,
maar ook in die toekomstige.
22Hy het alles onder sy voete gestel,
en Hom aan die kerk gegee,
as Hoof oor alles,
23die kerk wat sy liggaam is,
die volheid van Hom
wat alles in almal vul.

Tans Gekies:

Efesiërs 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid