Job 16

16
Job sê sy vriende kan niks vir hom verander nie
1Job het sy vriende geantwoord. Hy het gesê:
2“Ek het baie gehoor dat mense só praat.
Julle kan niks vir my verander nie.
3Hoekom wil julle nie ophou om dinge te sê
wat niks beteken nie?
Hoekom hou julle aan om so te praat?
4As dit met julle gegaan het soos met my,
dan kon ek ook soos julle praat.
Ek kon dan dinge sê oor julle
en ek kon my tong uitsteek vir julle.
5Ek kon julle bemoedig
en vir julle sê dat ek jammer is vir julle.
6Maar as ek praat, dan sal my pyn nie minder word nie,
en as ek ophou praat, dan sal die pyn
nie weggaan nie.”
Job sê God breek hom
7“Maar nou, o God, U het
my krag weggeneem,
U het my hele huisgesin laat sterf.
8U het my gegryp,
en dit bewys dat U dink ek is skuldig.
Ek is maer en baie swak,
en mense sal dink dat ek skuldig is.
9God is kwaad vir my, Hy breek my,
Hy byt hard op sy tande teen my,
Hy kyk na my soos iemand kyk na 'n vyand.
10Mense het oor my gesê wat hulle wil,
hulle het my gespot en geklap,
hulle is almal téén my.
11God het my gegee vir mense
wat verkeerd lewe,
Hy laat slegte mense
met my doen wat hulle wil.
12Dit het goed gegaan met my,
maar God het my gebreek.
Hy het my aan my nek gegryp
en op die grond gegooi.
Hy het sy pyle na my toe geskiet.
13Sy pyle vlieg na my toe,
dit sny my niere stukkend,
Hy hou aan om my gal
op die grond uit te gooi.
14Hy val my aan en Hy breek my
soos wanneer vyande
'n stad se muur afbreek,
hulle breek die een stuk af
ná die ander stuk.
15Ek het rouklere aangetrek,
ek het nie meer krag nie.
16Ek het baie gehuil en my oë is rooi,
daar is swart kringe om my oë.
17Ek het nie mense seergemaak nie,
ek was altyd eerlik wanneer ek bid.”
Job sê dat hy 'n Getuie in die hemel het
18“Aarde, jy moenie my bloed toemaak
wat gevloei het nie,
ek sal nie ophou om te skree en te vra
dat God my moet help nie.
19Ja, dit gaan sleg met my,
maar ek het 'n Getuie in die hemel,
die Persoon wat vir my sal getuig,
is in die hoë hemel.
20My vriende spot my,
my oë is vol trane,
maar ek bid tot God.
21Ek vra dat Hy self reg sal doen aan my
soos 'n mens dit vir sy vriend sal doen.
22Want my lewe is amper verby,
ek sal op my pad gaan
en ek sal nie terugkom nie.

Tans Gekies:

Job 16: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid