AMOS 8

8
’n Visioen van ’n mandjie vrugte
1Die oppermagtige Here het my weer ’n visioen laat sien. Dit was ’n mandjie vol ryp vrugte. 2Hy het vir my gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie vol ryp vrugte.”
Toe sê die Here vir my:
“My volk Israel
is soos hierdie vrugte,
ryp vir straf!
Ek gaan hulle straf
nie langer uitstel nie.”
3Die oppermagtige Here sê:
“Wanneer daardie dag aanbreek,
sal die liedere
wat hulle in die paleis sing
’n huiltoon hê.
Lyke sal in groot getalle
oral rondlê.
Bly liewer stil!”
4Julle wat die armes besteel
en die behoeftiges vertrap,
luister hierna!
5Julle kan nie wag
dat die Nuwemaanfees
of die Sabbat verby is
sodat julle graan kan verkoop nie.
Julle meet graan
met ’n vals maatbak
en bedrieg deur skaalgewigte
swaarder te maak.
6Die koring wat julle verkoop,
meng julle met kaf!
Julle koop armes vir geld
en behoeftiges
vir ’n paar sandale.
7Die Here, die Trots van Israel#8:7 Grondteks Jakob, wat na Israel verwys.,
het ’n eed gesweer:
“Ek sal nooit vergeet
wat Israel gedoen het nie!
8Julle dade sal die aarde skud,
almal op die aarde sal huil.
Die wêreld sal opstyg soos die Nyl
en wegsak soos die rivier
van Egipte.”
9Die oppermagtige Here sê:
“In dié tyd sal Ek die son
teen die middag laat sak,
en dit donker laat word
terwyl dit nog dag is.
10Ek sal julle feeste
tye maak van rou
en julle vrolike sang
tot ’n klaagsang.
Soos iemand rou oor die dood
van ’n enigste kind,
so sal julle rouklere dra
en julle koppe kaal skeer.
Dit sal ’n bitter dag wees!”
11Die oppermagtige Here sê:
“Die tyd kom
dat Ek hongersnood
oor die land sal stuur.
Nie ’n honger na brood
of water nie,
maar om te hoor wat Ek sê.
12Mense sal angstig soek
na die woorde van die Here.
Hulle sal soek van see tot see,
van die noorde tot die ooste,
maar dit nie kry nie.
13In dié tyd
sal jong meisies en jong mans
flou word van dors.
14Dié wat sweer by die afgode
van Samaria;
hulle sal sê:
‘Die God van Dan leef verseker!’
en:
‘Daar is beslis ’n pad
na Berseba toe.’
Hulle sal almal neerval
op die grond
en nooit weer opstaan nie.”

Tans Gekies:

AMOS 8: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid